Tuesday, May 25, 2010

By Hemelvaart en Pinkster 3: Die magsdaad - getuig!


Teks: Hd 1:8 (By hemelvaart)

In die fiering van die nagmaal so pas, het ons die dood van ons Here herdenk. Ons het ook op Paassondag die opstanding van ons Here gevier. Ons vier dit eintlik elke Sondag as die 1ste dag van die week. Ons herdenk vandag, 40 dae na die paastyd, die hemelvaart van ons Here.
Net voordat Hy daardie dag opgevaar het hemel toe, het Jesus se dissipels Hom gevra: Here, is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk vir Israel gaan oprig?
Kan jy hierdie 11 manne sien?! Hulle verwag dat iets gaan gebeur! Jesus is gekruisig en het opgestaan! Hulle sien Hom hier waar Hy voor hulle staan en hulle wonderlike dinge leer. Alles aangaande Hom wat in die Skrifte staan. En daar staan ook dat die koninkryk van God gaan kom!
En daarom die vraag: Wanneer Here?
Jesus antwoord:
Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. (Han 1:7)

Dis God se saak. Dis Sy koninkryk, Hy regeer, Hy bepaal die tye en geleenthede. Hy het die mag daaroor.
Dis alles waar. Dit is Sy koninkryk. Hy regeer absoluut.
Maar weet jy wat het ons hiervan gemaak? Dis God se saak; dis nie my saak nie! Ons vergeet die tweede deel van Jesus se antwoord:
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees (Han 1:8)

Hierdie oprigting van die Koninkryk van God gaan nie deur 'n skielike magsdaad van die Here plaasvind nie. Deur 'n magsdaad wel, ja! Deur die getuies van mense!
Wanneer jy bid: laat U koninkryk kom, dan bid jy dat die Here Sy kerk op aarde sal bewaar en sal laat groei.
Hoekom steek ons vas by die bewaar en kom ons nie met ons lewenswyse nie ook by die: groei uit nie? Is dit dalk omdat jy bang is? Bang vir jou verantwoordelikheid? Bang omdat dit dalk harde werk beteken? Bang omdat jy dalk antwoorde sal moet verskaf aan vreemde mense en jy voel jy kan nie?
Jy vergeet dat ons Here by Sy opdrag: julle sal My getuies wees, ook 'n belofte gevoeg het: julle sal krag ontvang wanneer die HG oor julle kom.
Julle sal krag ontvang. God se krag waarvan hier sprake is, het die wêreld verander. Dis nie 'n onpersoonlike krag nie. Nie 'n neutrale natuurkrag nie. Dis nie die krag waarop towenaars en toordokters staat maak nie.
Nee, dis die krag waarmee Hy sy volk uit die slawehuis van Egipte bevry het en wonders gedoen het, waarmee Jesus gebore is, opgetree het, wonders gedoen het, die kruis verdra het, opgestaan het, die dood oorwin het en – ja! – opgevaar het. Al hierdie gebeure vra van jou geloof en staan in verband met geloof. Vra van jou 'n persoonlike verhouding met God. Die enigste en lewende God. Jesus sê self nadat Hy 'n seuntjie gesond gemaak het, op 'n vraag van Sy dissippels dat deur geloof in Hom, niks onmoontlik is nie (Mt 17:14-20).
Hierdie krag, sê Jesus hier, sal sy dissippels ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle sal kom. Die belofte van die Heilige Gees is vervul toe die Heilige Gees uitgestort is met pinkster. Dis die vervulling van die profesie van Joël wat ons in Hd 2 van gelees het: So sal dit in die laaste dae wees sê God: Ek sal My Gees uitstort op álle mense. Sien jy: waar God se Gees werksaam is, is daar krag!
Die werk van die Heilige Gees is vernuwing en bekragtiging. Miskien lê ons dalk te veel klem op die vernuwende werking van die Gees en te min op die bekragtiging deur die Gees. Albei is belangrik. Sy Gees is uitgestort op alle mense. God vernuwe jou wat sy kind is deur sy Gees en Hy gee aan jou die krag wat jy nodig het. Deur Sy krag is niks onmoontlik nie!
Dis die belofte. Nou wat maak jy met hierdie belofte?
Soos met enige belofte omhels jy dit deur die geloof. Maak jy dit jou eie, vertroetel jy dit, bewaar jy dit. Dit moet deel word van jou mondering as gelowige. Dis deel van jou wapenrusting in hierdie wêreld.
Nou is die vraag: hoe maak jy hierdie belofte van die krag van God deur die Gees jou eie? Hoe vertroetel jy dit? Hoe moet jy maak om dit deel van jou mondering te maak?
Kyk, dit staan hier: en julle sal my getuies wees. Jy druk hierdie belofte aan jou hart wanneer jy getuie is vir Jesus Christus! Wanneer jy aan ander vertel dat Hy jou Verlosser en Here is. Hoe meer jy dit doen, hoe meer gaan jy die krag van God in jou en in ander mense se lewens sien werk! Wanneer jy in die krag van God die Woord aan ander verkondig deel jy so daarin, gryp dit jou so, dat jy nie kan onttrek nie, brand die evangelie soos 'n vuur in jou sodat jy dit moet vertel!
Dis nie dat jy die krag van God afhanklik maak van jou getuie wees nie. Maar jou belewenis van die krag van God gaan ingrypend verander wanneer jy gehoorsaam God se wil uitvoer.
Die woord wat met krag vertaal is, hou verband met die woord vir dinamiet. Wanneer jy getuig, plaas jy die dinamiet van God in die ore en harte van mense. Hy breek die ore en harte oop om gelowig sy Woord te ontvang en daarvolgens te lewe.
Die Here Jesus gee in hierdie vers die plan waardeur Hy sy kerk op aarde wil bewaar en laat groei. Hy gee sy plan vir die koms van die koninkryk aan jou deur. Dit behels dat Hy jou wil gebruik. Hy sê dat julle getuies moet wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea, Samaria en tot in die uithoeke van die aarde. Handelinge is die beskrywing van die uitvoering van hierdie plan tot by Rome.
Jy is deel van die resultaat van die getuies wat tot by die eindes van die aarde gegaan het. Kan jy dit bekostig dat jou stem as getuie nou stil word?
Is jy deel van die getuiespan van ons Here?

No comments:

Post a Comment