Wednesday, March 10, 2010

Die werk van die Heilige Gees (01): Die Heilige Gees gee lewe


Lees Rm 8:1 tot 17. Fokus: Rm 8:9
Verdra my vir ‘n oomblik om ‘n paar goed uit die redenasie van Paulus hier in die deel wat ons gelees het aan jou uit te wys. Ek is bang dat jy, soos ek aanvanklik, iets gaan mis.
Want sien, ék het na die teks toe gekom om hierdeur een ding baie duidelik aan te toon. Kyk bietjie saam met my:
Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. (Rom 8:9)

“... want die Gees van God woon in julle.”
Wóón! Dis die woord vir huis, blyplek. God sélf, God die Heilige Gees, woon in julle. Het sy blyplek in die gelowiges kom maak. Sy huis is in julle! In ons!
En onmiddelik het ek gedink: Waar het God oral gewoon in die Bybel?
Ons lees van verskeie plekke. In die tuin nadat Hy alles gemaak het (Gen 3:8). Toe, na die sondeval, het Hy verkies om sy Naam te vestig in die Tabernakel. Daarna in die Tempel. Toe het ons Here Jesus Christus gekom en van Hom staan daar:
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. (Joh 1:14)

En toe is die Heilige Gees uitgestort en dis wat in die teks geskryf staan: “... die Gees van God woon in julle”.
En wat ‘n preek is dit nie! God wat in ontoeganklike lig woon, God deur wie ons leef, beweeg en bestaan, kies sy woonplekke, sy adresse, met óns in gedagte! Hy kies sy adresse sodat dit vir ons moontlik sal wees om met Hom in verhouding te kan staan. Omdat Hy met ons ‘n verbond gesluit het. En altyd al nader en al duideliker: God buite, God onder en toe God in ons.
Hoe lief het Hy ons nie!!
Maar, daar is meer hierin.
Wanneer jy in ‘n plek intrek om daar te woon, dan word daardie plek verander en reggemaak soos jy dit graag wil hê. Dit word ‘n plek waarvan jy kan sê: Oos, wes, tuis bes. En soos die jare vorder word jou blyplek soos wat geld en tyd toelaat, verbeter om werklik iets te vertoon van jouself en hoe jy wil hê dat dit moet wees. Dit beteken dat jy so mettertyd al die slegte dinge van die huis verwyder en dit vervang of volmaak met wat vir jou reg is.
Maar jou woonplek, of plekke, verklap altyd iets van jouself.
Hier staan in v9 dat die Heilige Gees in elke mens kom woon wat aan ons Here Jesus Christus behoort. Dit staan ook in 1Kor 3:16 dat ons tempel van God is en dat die Gees van God in ons woon. Dis ‘n ander manier om te sê dat die Here Jesus Christus in ons is (v10) en ons in Hom is (v1). Christus in ons en ons in Christus. Dis ‘n totaal nuwe bedeling wat aangebreek het met die koms van ons Here Jesus Christus.
Dis die bedeling van die lewe. Dit is wat die Heilige Gees kom doen het:
Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. (Rom 8:2)

Dis duidelik: daar is ‘n lewegewende wetmatigheid of bedeling. Die bedeling van die Heilige Gees. En daar is ‘n doodsbedeling of wetmatigheid. Die twee staan lynreg teenoor mekaar.
En kyk maar oral in die Bybel, ook in die OT, waar daar ‘n nuwe begin uit ‘n doodloopstraat is, dis waar die Heilige Gees werksaam is.
Dit spreek vanself dat as jou Eienaar, die Here Jesus Christus, in sy groot genade deur sy Gees in jou kom inwoon het, dat Hy veranderings sal wil aanbring. Hy het jou immers gekoop met sy bloed en Hy sal jou wil verander sodat dit vir Hom aangenaam is om met jou geassosieer te word.
Hoekom is dit dan so moeilik om te verander?
Hoekom is daar soveel weerstand teen verandering? Hoekom is daar soveel krapperigheid om hierdie genade van God te aanvaar?
Daar is verskeie antwoorde wat mens kon gee hierop. Ek wil 3 gee:
1. Ek hoef nie te verander nie want ek het geen behoefte aan verandering nie.
Hierdie standpunt kom daarvan dat ek nie besef hoe groot my sonde en ellende is nie. Ek besef nie waarvan ek verlos moet word nie. As jy jouself moet meet op ‘n punteskaal teen die 10 gebooie, gaan jy waarskynlik heeltemaal goed daarvan afkom. Wanneer jy die 10 gebooie so hoor, kom jy nie eintlik agter watter een jy nou eintlik oortree het nie.
Dit mag dalk vir jou so lyk, br en sr, maar die uiteinde van hierdie manier van dink is: jy jaag nie meer die verandering na nie. Jy hunker nie om al meer en meer te word wat die Here Jesus Christus wil hê dat jy moet wees nie. Jy beleef nie bewustelik dat die Gees van Christus in jou woon nie. Die huis wat jy is raak al hoe meer bouvallig, omdat jy nie meer aan jouself laat werk nie.
2. Ek kan myself verander.
Dis eintlik baie snaaks: jy wil nie eintlik verander nie, maar as dit dan moet, dan sal jy jouself verander. Dan trek jy hier ‘n bietjie reg. Maak daar ‘n klein verstellinkie en aanpassinkie. En dan dink jy dat jy nou nuut is. Jy hou jou voor aan die wêreld asof jy ‘n nuwe huis is.
Weet jy, so verneuk jy dalk baie mense, maar nie vir God nie en ook nie vir die duiwel nie. Paulus stel ‘n baie duidelike en defnitiewe kontras tussen die dinge van die sondige natuur en die dinge van die Gees. Daar is geen kompromie en geen vriendskap moontlik tussen die twee nie.
Nee, daar moet ‘n radikale verandering plaasvind. Godsdienstige kosmetiek help nie. Aanplak en aanpleister help nie. Jy moet herskep word, nuut word. Die ou, muwwe mens moet doodgemaak word en die nuwe moet opstaan. Dis so radikaal verskillend soos lewe en dood. Dit staan hier in v10: Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak
Jy kan alles van Christus af uit jou kop uit opsê en tog niks van Hom weet nie. Dan gaan die vryspraak ook by jou verby soos vloedwater. Self kan jy nie verander nie, dis die Heilige Gees se werk in jou. Jou eie pleisterwerk, jou eie verandering help nie. Net bekering bring hierdie wonderwerk. Dit is vryheid. Dit is oorwinning.
3. God kan ons nie verander nie.
Nog ‘n rede hoekom dit so moeilik is om te verander is die gedagte dat God ons nie kan verander nie. Mense glo dit graag: so gemaak en so laat staan hoor mens dikwels. Met die bedoeling daarby: selfs God kan nie verandering aanbring nie.
Dit is om God te wantrou. Die enigste manier waarop jy – enige mens – verander kan word om nuut te word en om om te keer, word só gewantrou.
Wanneer God deur sy Gees werk, dan vind daar nie bloot net kosmetiese veranderings plaas nie. Dan is dit wat jy voorhou nie bloot net vir die goeie indruk van die huis nie, maar is dit ‘n werklik grondige nuutmaak van jou huis.
Weet jy, ou vervalle huise of murasies is huise wat nie meer gebruik word nie, omdat dit nie aan die behoeftes van die eienaar van so huis voldoen nie. Dikwels word erwe deur ontwikkelaars gekoop en die huise daarop platgestoot en nuwe geboue opgerig.
Net so is dit as die Heilige Gees in jou werk. Daar sal verandering plaasvind. Dit wat jou Eienaar in jou wil sien, moet jy vertoon. Jy moet daarheen werk. Jy moet jou versit teen die sondige natuur wat nie wil verander nie en jy moet jou verlustig in wat Christus vir jou verwerf het en van jou verwag. Hierdie soort verandering is die natuurlikste ding waaraan ‘n gelowige moet deelhê.
Ons Here Jesus Christus het jou so lief dat Hy ter wille van jou aan die kruis gesterf het. Die Heilige Gees het jou so lief dat Hy ter wille van jou in jou leef. Dat Hy ten spyte van al die dinge wat jy doen wat Hom seermaak en bedroef, in jou bly leef. Ten spyte van die feit dat Hy nie kan wag dat die dinge wat pla, moet verander om Hom te pas nie, verdra Hy dit nog. Maar die tyd loop uit. Ons Here Jesus Christus kom.
Daarom dan – staan hier in v12 – staan ons onder ’n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. Ons staan in verpligting teenoor die Heilige Gees om deur Hom te leef in en deur die genade wat aan ons geskenk is.
Jy is sy tempel. Hy woon in jou. Is Hy tuis in jou?