Wednesday, March 17, 2010

Werk van die Heilige Gees (02): Bybelstudie oor die vrug van die Gees

Lees Gl 5: 13 - 26 en veral vers 22-23

Die doel van heiligmaking is nie alleen om die werke van die vlees af te lê nie, maar om die vrug van die Gees in die plek daarvan op te neem.

Vrug van die Gees:
1. Die vrug van die Gees veronderstel ‘n lewende boom/plant – dit word nie geproduseer in dié wat geestelik dood is nie.
2. Dis nie die vrug van die Gees in die sin dat Hy die boom is wat dit dra nie. Die Gees is die Een wat die boom geplant het (wederbaar) en laat groei het (heiligmaking).

 Vergelyk vir die “wortels” van die vrug die volgende tekste:
Liefde - 1Jh 4:16
Vreugde - Sef 3:17
Vrede - Heb 13:20
Geduld - 2Pt 3:9
Vriendelikheid - Ef 2:7
Goedheid - Ps 27:13
Getrouheid - Klaagl 3:23
Nederigheid - Mt 11:29
Selfbeheersing - Lk 1:51 (Selbeheersing kom van die woord vir krag(tig) = lett.: om jou krag in toom te hou.)

• Gedring deur die Heilige Gees, vertoon ‘n Christen se karakter merkbare ooreenkomste met God se “karakter”. Moet dit in jou die gevoel opwek: “Kyk goed hierna (bg.eienskappe van God) en probeer harder” ? Kan jy dit ooit bereik?

3. Die kwaliteite van lewe wat “vrug” genoem word dui op iets wat groei. Jy kan die groei promoveer, maar kan dit nie inisieer of verseker nie. Net soos vrugte nie gefabriseer kan word nie, maar wel aangehelp kan word deur te sorg dat dit genoeg lig, water en kos kry. Die groei van die vrug (wat reeds daar is) hang af van bewerking en versorging.
• Watter “lig, water en kos” moet jy kry?

4. Die woord “vrug” dui oënskynlik in die teks (Gl 5:22) daarop dat die mens geen poging hoef in te sit nie.
Vergelyk mens egter ander tekste hiermee, is dit duidelik dat so siening van alle waarheid ontbloot is. Vgl.: 1Tim 6:11 - “Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.” En ook 2Tim 2:22 - “en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede”. Hier word Tim. beveel om na die “vrug van die Gees” te streef.
Nastreef van die vrug van die Gees

Die nastreef van die vrug is ‘n top prioriteit vir gelowiges. Die eienskappe van die vrug is doelwitte waarheen elke gelowige moet mik. Daarom is dit baie belangrik om te weet wat elk beteken en hoe daarna gestreef kan word. Dan kan daar by jou as gelowige leemtes en sterkpunte geïdentifiseer word en daaraan gewerk word.

Oor persoonlikheid is daar baie stof in die Bybel te vind. Twee sake in verband met persoonlikheid is belangrik om genoem te word:
1. In die Bybel is persoonlikheidstipes ‘n vloeibare saak. Dit bestaan uit die basiese natuur [Gr.= phusis] waarmee mens gebore is wat ontwikkel in reaksie op die lewe en ook deur God verander en gevorm is.
2. Daarom kan “persoonlikheid” verander. Die vrug van die Gees is sulke “persoonlikheidseienskappe” wat verkry en ontwikkel kan/moet word. Iemand wat geleer het om hierdie vrug van die Gees te produseer, het sy probleme oorkom en is in staat om dit te bly oorwin. Daarom is die vrug van die Gees die “opneem”- of dóén-kant van heiligmaking.

 Gaan die volgende tekste na vir die opdrag om die eienskap na te streef.
Liefde - Mt 22:37-39
Vreugde - Fil4:4
Vrede - 1Pt 3:11
Geduld - 1Tess 5:14
Vriendelikheid - Kol 3:12
Goedheid - Gal 6:10
Getrouheid - Op 2:10
Nederigheid - Tit 3:2
Selfbeheersing - 2Pt 1:5-6

• Watter van hierdie eienskappe van die vrug van die Gees “pas” by jou persoonlikheid?
• Wat sê die feit dat daar in Gl 5:22 net van “vrug” (en nie: “vrugte” nie) gepraat word vir jou voorkeur van een van bogenoemde?
• Hoe produseer die Gees hierdie vrug en hoe kan jy as herder ander help om dit na te streef?

Die basiese antwoord is: Die vrug van die Gees word gekultiveer en geproduseer deur biddende, gereelde studie en gehoorsame toepassing vd Woord. (Nastreef beteken: streef na, najaag, naspoor, vervolg met vasberadenheid en volharding.) Dit gebeur nie met ‘n towerslag op ‘n Donderdagmôre om 06:00 wanneer die Heilige Gees jou daarmee “slaan” nie!

• Waar, dink jy, hou jou ”najaag” op en begin God se aksie? Wat is die rol van die Heilige gees in hierdie groei?

No comments:

Post a Comment