Monday, March 22, 2010

Werk van die Heilige Gees (03) Genadegawes

Lees 1 Kor 12. Veral vers 1 - 11.
Nou wat doen die Heilige Gees?
Ons bely dat die Heilige Gees die derde persoon van die Drie-Enige God is. Hy is God wat ‘n persoonlike God is. Hy is nie maar ‘n onpersoonlike krag of mag wat jy kan oproep of manipuleer tot jou voordeel of dalk tot nadeel van iemand anders nie. Want dis towery of heksery – ‘n poging om magte en kragte te manipuleer, sodat jy ‘n mededingende voordeel kan kry. Nee, die Heilige Gees is God.
En ons het gesien dat die kenmerkende van alles wat die Heilige Gees doen is dat Hy lewe gee, uitkoms wanneer daar ‘n doodloopstraat is. Wanneer daar onreg en onheiligheid in jou lewe is wat uiteindelik tot jou dood sal lei, is Hy die Een wat jou begelei in heiligmaking, geloofsgroei, om jou al meer en meer te laat word wat jy in Christus is. Wanneer jy nie meer uitkoms kan sien nie vanweë hartseer of moedeloosheid of groot sonde in jou lewe, dan is Hy die Een wat jou troos, bemoedig en vermaan – oortuig van jou sonde. Wanneer jy so groot leegheid in jou ervaar dan is Hy die Een wat jou vul – Hy woon immers in jou – en terugverwys na die Here Jesus Christus en wat Hy gesê en gedoen het. Hy verheerlik Christus (Jh 14 en 15 en 16).
Iets spesifieks wat die Heilige Gees ook doen is dat Hy genadegawes aan elke gelowige gee. Genadegawes is in Grieks charismata.
Daar is ook ‘n omskrywing van genadegawes of geestesgawes in die nuusbrief:
Genadegawes (Grieks: charismata) is geskenke van God uitgedeel deur die Heilige Gees aan elke gelowige in ooreenstemming met God se wil en uit genade alleen tot voordeel van die liggaam van Christus en tot God se eer.
Daarom is dit belangrik dat ons ons ook vandag verantwoord oor die gawes wat die Here ons skenk. Dis wesensdeel van die werking en fuksionering van die liggaam van Christus – ook van ons as die liggaam van Christus. Daarom staan hier: Wat die gawes van die Gees betref wil ek hê dat julle ingelig moet wees. (1Kor 12:1).
Oningeligtheid was die probleem wat Paulus met die gelowiges in Korinte gehad het. Hulle was onder die invloed van die Griekse en Romeinse godsdienste. Ook genoem paganistiese godsdienste wat ook deesdae weer hier in ons land in die oopte kom en aanhang geniet met hekse wat ingesweer word, sangomas wat al prominenter raak en sulke goed. Die klem in hierdie godsdienste val op die bonatuurlike, die mistieke. Dit wat mense krag gee en die manipulering van kragte en magte. Daarom sal ek ook baie versigtig wees om al die goed wat byvoorbeeld Benny Hinn doen aan die Heilige Gees toe te skryf. Vir die wat nie weet nie, Benny Hinn is een van die leiers of voorlopers van die nuwere Charismatiese beweging hier so vanaf die 1980’s.
In die ou tyd is ekstase en die bonatuurlike dinge hoog aangeskryf in die godsdienste van die Grieke en die Romeine. Omdat die werk en die gawes van die Heilige Gees dikwels wonders te weeg gebring het, het die Korintiërs deurmekaargeraak met die werk van die Heilige Gees en die goed wat as gevolg van die optrede van heidense priesters en priesteresse gebeur het.
Vir die mense wat net op die oog af gekyk het en onkundig was, was dit nie moeilik om die kragtige werkinge ná die uitstorting van die Heilige Gees, te verwar met die bonatuurlike werkinge van die ander godsdienste nie. Wanneer die ander godsdienste se leiers opgetree het en hierdie bonatuurlike dinge het gebeur, het die mense gedink dit moet van God wees.
Soos vandag meen baie mense as só iets gebeur, dan moet dit van God af kom.
Daarom die woorde in die teks: Wat die gawes van die Gees betref wil ek hê dat julle ingelig moet wees.
Letterlik staan hier Wat die dinge van die Gees betref wil ek hê dat julle ingelig moet wees.
Ingelig wees hier is letterlik: nie onkundig wees nie.
In ons wêreld waar alles nog grotendeels met die verstand en rede uitgewerk word en daar min plek gelaat word vir die belewenis van die werking van die Heilige Gees, is dit noodsaaklik om kennis te dra van die Gees se werk in ons.
Ingelig hier beteken om te weet in ooreenstemming met wat God wil. Dis immers wat God hier aan ons openbaar in sy Woord. Hy wil dat ons wéét! Dit beteken ook dat ons dit kan ervaar. Dis nie net met die kop weet nie, maar ook met die hart – om dit maar so te sê.
Kom ons kyk wat die Here ons hier wil leer, wil inlig, oor die dinge van die Heilige Gees.
• Die eerste ding is dat mens nie kan bely dat die Jesus die Here is as die Heilige Gees dit nie vir mens gee nie (v3).
• Die verskeidenheid van gawes word deur dieselfde Gees gegee. Alle ledemate van die liggaam van Christus hoef dus nie dieselfde te wees nie. Daar sal ‘n verskeidenheid van gawes, bedienings en geestelike werkings in gelowiges wees (v4-6).
• Elkeen – elke gelowige – het sulke gawes. Daar is nie een wat kan sê: “Ek het niks ontvang nie” (v7).
• Hierdie gawes is tot voordeel van almal (v7).
• En die Heilige Gees deel dit uit aan elkeen soos Hy wil (v11).
• Daar is eenheid in die verskeidenheid (v12-13). Eenheid beteken dus nie eendersheid nie. En ook beteken verskeidenheid nie verdeeldheid nie.
• Net soos die ledemate van jou liggaam interafhanklik van mekaar is, so is ons met ons gawes interafhanklik van mekaar (v14-20). Ons het almal se gawes dus nodig, daar is niemand wat kan en mag sê dat hy of sy nie nodig is vir die optimale bestaan van die liggaam van Christus – die kerk – nie (vv 21-26).
• Dan sê die Here hier by monde van Paulus, dat mense sal neig om hulle toe te lê op die buitengewone gawes, dit wat die oog vang. Die wondergawes van genesing, praat in tale, uitleg daarvan en wonders. Dit was die probleem waarby Paulus wil uitkom daar in Korinte. Die gelowiges daar het gedink dat praat in ongewone klanke die kenmerk was wat jou onderskei het as gelowige. Baie gelowiges vandag dink ook nogal so. Daar is baie mense wat dink dat wanneer jy in tale praat jy eers werklik ‘n gelowige is. Maar dis nie waar nie. Daarom die woord in v31: Lê julle toe op die beste genadegawes. En wat is die beste? Dit wat die Heilige Gees aan jou uitgedeel het, dis die beste! Wees wat jy is in gehoorsaamheid aan die Here.
En dan werk Paulus dit uit in hfst 14 en sê dat die beste vir die mense in Korinte was dat hulle hulle toelê op die gawe van profesie – om God se wil te wete te kom – as wat hulle ongewone tale praat wat baie werd is vir individuele gelowiges, maar dikwels nie tot stigting is vir almal waar hulle saamkom nie.
• Maar dit wat die Here ons hier leer oor die werking van die Heilige Gees in ons wat sentraal staan, is die liefde. Al doen ek al hierdie wonderlike dinge wat ek geestesgawes of genadegawes noem, en ek openbaar daarmee en daardeur nie die liefde – die vrug van die Heilige Gees nie – dan maak ek geraas soos ‘n leë blik:irriterend en met geen belofte nie. Al gebeur daar die wonderlikste goed in en deur die liggaam van Christus – sonder liefde is dit betekenisloos.

En liefde is verhoudings. Jou verhouding met jou man of vrou, met jou kinders en jou ouers, met jou familie, met jou familie hier in die huisgesin van God. Dis ook jou verhouding met God. Hy wat jou eerste liefgehad het. “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Daarom is liefde in ‘n sin om in ‘n doodloopstraat ‘n pad uit moontlik te maak. As jy ooit wonder oor liefde, dink aan Christus. Wat het Hy kom sê en kom doen. Hy is die verpersoonliking van liefde. Hy het die pad van die liefde geloop en so vir jou kom wys. Soveel dat Hy vrywillig aan die kruis gesterf het sodat jy die lewe kan hê.
Daarom het Hy sy Gees gestuur, om al hierdie dinge – die werkinge van die Gees in ons, die genadegawes – in ons te werk. Dis die boublokke van die liefde. Dis waarmee verhoudings gebou word. Gebruik al jou gawes, alles wat jy ontvang het, om in liefde op te bou.
En hoe moet jy deur God se genade wees om dit reg te kry? Kom ons kyk na 1 Kor 13:4-7:
En vul jou naam maar in by die spasies:
___________ is geduldig, _____________ is vriendelik, nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie.
____________ handel nie onwelvoeglik nie, soek nie my eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.
______________ verbly my nie oor onreg nie, maar verheug my oor die waarheid. Ek bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
So is die liefde die een groot gebod, die oorheersende lewensbeginsel, in my gebruik van die presente, die gawes, wat die Here my gegee het.

1 comment:

  1. Mooi stukkie oor die genadegawes. Die lering is duidelik. Wens ek kan 'n bydrae lewer vir die verder praktiese toerusting om gelowiges te help om elkeen sy genadegawe te leer ken en gebruik onder leiding van die HG.

    ReplyDelete