Wednesday, March 17, 2010

Werk van die Heilige Gees (02): Vrug van die Gees


Lees Gal 5:13 – 26

In hierdie hoofstuk gaan dit oor vryheid. Christelike vryheid.
Om werklik vry te wees is nie om te maak soos wat jy wil nie, maar om verlos te wees van enige ander bande wat jou bind en jou verhoed om Jesus Christus te dien en na te volg.
Vraag: Watter bande bind jou om die Here nie te dien soos wat jy moet en graag sou wou nie?
In hierdie deel wat ons gelees het is dit enige gebruik of gewoonte van mense wat jou in ‘n rigting weg van God af indwing. Enige sonde waarmee jy in jou lewe te doene het waarmee jy nie gebreek kry nie.
Daarom die bevel in v16:
Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. (Ga 5:16)
Letterlik: wandel in die Gees, dan sal die begeertes van die vlees, die sondige natuur, nie jou einddoel of vervulling wees nie.

Wat gegee is
Die Here Jesus Christus het jou mos verlos van die mag van die sonde en die dood. Jy behoort nou aan Hom. Hy’t vir jou betaal met Sy bloed aan die kruis. Hy het jou losgekoop van die mag wat die sonde op jou gehad het. Jy kan nou saam met die Gees loop op hierdie pad wat die Here Jesus Christus kom oopmaak het na die hemel waar Hy vir jou gaan plek maak het.
Dis wat die Heilige Gees kom doen: Hy bring jou in en begelei jou na die punt en plek in jou lewe waar jy werklik die heerskappy van God oor jou lewe erken en beleef en jy deel het aan al die seëninge wat Christus kom gee het.

Wat jy moet doen
Maar v16 praat duidelik van jou verantwoordelikheid hierin:
Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. (Ga 5:16)
Letterlik: wandel in die Gees, dan sal die begeertes van die vlees, die sondige natuur, nie jou einddoel of vervulling wees nie.
Kom ek illustreer dit: God die Here besit die wêreld en alles wat daarin is. Aanvanklik was almal, ook die mense, baie gewillig om onder die enigste Koning en Heerser te dien en het dit met vrywilligheid en met volle instemming gedoen. Totdat ‘n ander heerser, die duiwel, opstand gestook het en die mens teen God laat draai het. Die duiwel het die mense wat hy in sy mag gekry het, willoos gemaak en met vrees vervul sodat hulle hom moet dien. Hy regeer deur vrees. Vrees vir swaarkry, ongelukkigheid, mislukking en dood. Op hierdie pad word mense verstrengel in bande van ...
onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. (Ga 5:19-21)

Want sien, vrees vir ongelukkigheid en swaarkry en die dood, laat mense al hierdie dinge doen. Dis ‘n reaksie op die leuen dat ek totale beheer het oor my lewe en niks en niemand anders kan daarmee inmeng nie. Dis ‘n reaksie op die leuen dat vryheid beteken dat ek kan maak wat ek wil.

Maar dis nie waar nie. ‘n Vis is mos nie vry as hy buite die water is nie! ‘n Vis is vry solank hy binne die water bly. Wandel deur die Gees beteken dat ons soos visse is wat aan God behoort. Ons is vry binne die water van God se woord en wat Hy van ons vra.
Dit beteken nie dat ek soos ‘n robotvis in hierdie water beweeg nie. Ek is nie willoos nie. Maar ek staan onder heerskappy van die Here deur die Gees. Dit beteken dat ek die verantwoordelikheid het om in hierdie water, hierdie terrein, hierdie bewuste erkenning van God se heerskappy te bly. Buite die water beteken dit dood. Binne hierdie water is daar ruimte om te beweeg, ruimte om te groei, te werk, te speel: kortom: ruimte om te lééf! Voluit te leef.

Prakties gesien
Die manier hoe jy jou verantwoordelikheid nakom om hierdie heerskappy van die Heilige Gees te erken en uit te werk in jou lewe, is deur gehoorsaam te soek en te doen wat God wil, wat die Heilige Gees in jou werk. En dit staan hier:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. (Ga 5:22-23)

Nou oor die letterlike betekenis hievan kan julle in die volgstuk wat beskikbaar is, verder lees en leer.
Net dit: die eerste drie fassette van die vrug van die Heilige Gees gaan oor gewoontes van jou denkwêreld wat hul oorsprong vind by God.
Die tweede groep van drie is die uitreik na ander. En dit word gestut deur liefde, vreugde en vrede.
Die laaste groep van drie fasette van die vrug van die Heilige Gees begelei die algemene gedrag van ‘n gelowige wat beheers word deur die Gees.
Dis maar ‘n indeling wat mens sou kon maak om jou gedagtes hieroor opnuut te prikkel.

Die punt is: liefde word nie sonder rede eerste genoem nie. In ‘n sin is dit die somtotal van alles wat hier genoem word. En, sou mens kon sê, is alles wat daarop volg hier ‘n verdere uitwerking van hoe om die liefde tot sy reg te laat kom.
DG Barnhouse het dit so gestel:
Die kern van die vrug van die Heilige Gees is liefde.
Vreugde is liefde wat sing
Vrede is liefde wat rus
Geduld is liefde wat uithou
Vriendelikheid is liefde se sagte aanraking
Goedhartigheid is liefde se aard
Getrouheid is liefde se goeie gewoonte
Nederigheid is liefde wat sefvergetend handel
Selfbeheersing is liefde wat die leisels hou.
Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. (Ga 5:25)

Letterlik staan hier in die laaste reëltjie van v25: “laat ons ook deur die Gees wandel”.
Hierdie wandel beteken om in pas te wees met die Heilige Gees. Om in te stem en saam te stem met die Heilige Gees. Soos soldate wat in gelid marsjeer. Marsjeer saam met die Heilige Gees.

Nou wat gaan dit wees? Die vrug van die Gees? Of die praktyke van die sondige natuur? Dis soos twee soortgelyke honde, kom ons noem hulle: Vrug-van-die-Gees en Sondige-natuur, wat jy aan die veg sit. Watter een gaan wen?
Die een vir wie jy kos gee!

Ek het jou in die begin gevra: Watter bande bind jou om die Here nie te dien soos wat jy moet en graag sou wou nie?
Die antwoord lê daarin: gee jy nie dalk vir die verkeerde hond kos nie?
AMEN

No comments:

Post a Comment