Thursday, February 18, 2010

Februarie Reeks Sondag Twee Liefde vir die vyand Matteus 5

 Inleiding

Verlede Sondag is die uitnodiging gerig om nie aan jou eie of 'n kollektiewe menslike koninkryk te bou nie maar saam te kom werk aan die Koninkryk van God. Daar is baie te sê oor die Koninkryk van God daarom kan ons nie in een preek die ganse tema voldoende dek nie. Wat ek graag vanoggend wil doen is om jou die geleentheid te bied om te sien waarvoor jy jou inlaat as jy na die Koninkryk van God draai.

Kontra-intuitief

As Jesus na die versoeking in die woestyn met sy bediening begin sê Hy "die evangelie is dit - bekeer julleself want die Koninkryk van God is naby." Jesus vra dat ons alles weer sal herdink. Ons beskouing van die lewe, die wêreld, ons drome, als wat lief en dierbaar is moet weer herdink word. In die Koninkryk van God werk dinge anders as in menslike koninkryke. Dit sien ons van meet af aan hier in die belangrikste hoofstukke wat oor die Koninkryk handel - Matteus 5-7.

Die geseëndes in die Koninkryk is nie die ouens wat weet wat hulle wil hê en dit vir hulleself kry nie, dis nie die mense wat van vroegdag af hulle eie drome najaag nie, dis nie diegene wat doelgerig hulle eie koninkryk bou nie. Die mense wat deur Koninkryksoë as geseënd geag word is die vredemakers, die mense met die sagte hart, die persone wat treur as onreg geskied, diegene wat vervolg word vir wat reg is, dis die wat nie hulle sekuriteit in aardse dinge het nie maar weet hoe afhanklik hulle van God is.  

Teen die tyd van Jesus is die Koninkryk al ‘n long time in the making. Die voetspore daarvan lê oral in die Ou Testament. Jesus bring in die opsig nie 'n nuwe wet nie. As Koning van die Koninkryk kom maak Hy dit vol. Hy gee volle betekenis aan 'n reeds ou wet. Dit sien ons as Hy telkens sê "julle het gehoor dat daar gesê is..." en dan noem hy die uiterlike wet waarop die Fariseërs so gefokus het "julle mag nie moord pleeg nie..." en dan maak Hy dit vol "maar ek sê vir julle dat julle nie mag haat nie..." Jesus spreek nie net die uiterlike aan nie maar dit wat werklik saak maak, die innerlike oorsprong van die daad. Hy dwing ons om weer te besin oor innerlike sake soos wellus, begeerte, haat, jaloesie...

Dit bring ons by ons gedeelte vanoggend (5:43-48) – "daar is gesê dat jy jou naaste moet liefhê." En dan gee Hy die wet sy volle betekenis "maar ek sê jou in die Koninkryk van God moet jy selfs jou vyande liefhê!" Jesus basseer die opdrag, die vervulling van die wet, op die feit dat God almal liefhet. Hy laat die son oor almal opkom en giet die reën oor almal uit. As jy nou uitgaan en jou vyande liefhet maak jy net soos God en kan jy as sy kind gereken word. Dit is die boodskap vanoggend - gaan maak soos jou Pa!

Maar hoe?

Ja Jesus maar jy leef nie in Suid Afrika nie! Dink ons egter aan die vroeë christene wat die woorde van Jesus ter harte geneem het en gevolglik daarvoor vervolg en vermoor is, lyk Suid Afrika nie so sleg nie. As tasbare voorbeeld van hoe die liefde onder vroeë christene uitgeleef is wil ek graag 'n stilstaan by die vroeë christene net na Keiser Konstantyn.  

Ons leer uit die geskiedenis dat Keiser Konstantyn van die Romeinse Ryk in die vierde eeu ‘n soort van redder van die Christendom was. Hy en sy opvolgers het die Christendom tot staatsgeloof verklaar en die vervolging van Christene stop gesit. Vandaar neem almal aan dat die christene van die antieke era dit maklik gehad het. Hulle het die gelukskoot met Konstantyn getref en van toe af hulle geloof op almal afgedwing. Maar die geskiedenis is selde indien ooit so eenvoudig. Die Christendom se sukses het nie van keisers afgehang nie maar van die mate waarin hulle die beginsels van die Koninkryk van God uitgeleef het. Skaars dertigjaar of wat na Konstantyn se dood betree nog ‘n Keiser met die naam Julianus die toneel. Hy het grootgeword as ‘n Arianis – ‘n dwaalspoor wat uit die Christelike geloof gegroei het en wat die Goddelikeheid van Christus betwyfel of ten minste gemarginaliseer het. Julianus het gou genoeg die dwaling afgeskud en homself tot die hellenisme bekeer, die denke van ou Rome met sy griekse filosowe wat ook die onderbou van ons moderne samelewing vandag vorm. Na sy bekering het sy haat vir christene geintensifiseer. Hy wou hulle van die toneel af hê maar het geleer dat jy hulle nie doodmaak nie, dan groei hulle eers. So openlike vervolging was nie ‘n opsie nie. Sy plan was toe om Christene vanuit alle regeringsposte asook uit die weermag te verban. Hulle mag nie in staatskole as onderwysers opgetree het of van die antieke Griekse tekste in hulle klasse gebruik gemaak het nie. Soos die Jode in die dae voor die Tweede Wêreld oorlog in Duitsland tot op die rand van die samelewing deur die Nazi’s uitgeskuif is, so het Julianus ook probeer doen. Daar was net een probleem… die Christene het bly vashou aan dit wat in vers 43-48 staan. Hulle het selfs die Romeinse helleniste wat gister nog christene in die arena’s vir die leeus gegooi het, liefgehad. Dit het Julianus grys hare gegee want hoe lê jy dit aan bande? Ons het sy frustrasie nog op skrif. Hieroor sê hy:

Whilst the pagan priests neglect the poor, the hated Galileans devote themselves to works of charity, and by a display of false compassion have established and given effect to their pernicious errors. See their love-feasts, and their tables spread for the indigent. Such practice is common among them, and causes a contempt for our gods.

These impious Galileans not only feed their own poor, but ours also; welcoming them into their agapae, they attract them, as children are attracted, with cakes.

Julianus se plan was eenvoudig – beat them at their own game. Op pad na die Persiese front skryf hy aan een van sy mense om 220 ton graan en 34 duisend liter wyn aan die heidense tempels in Galasië te gee. Dit moet dan aan die mense en die priesters van die heidense tempels asook hulle helpers uitgedeel word. Sodoende sou ook hierdie mag van die troppie provincial Galileërs (soos hy die Christene afgemaak het) breek.

Julianus wou iets aan die gang sit wat nie in sy mense se harte geleef het nie. Hy wou liefde vir ander vanuit die staat reguleer en aanmoedig. Die rede waarom hy dit moes doen was vanweë die feit dat die antieke heidense samelewings nie armsorg geken het nie, veral nie versorging van mense buite hulle eie kring nie. Die antieke heidene in die Romeinse Ryk het aanvanklik in selfversorgende stadstate gebly. Meeste van die jolaiteit van die mense was gerig op elkeen se eie stadstaat. Jy het dan ryk mense gekry wat euergetes genoem is. Dit was weldoeners wat spontaan gegee het. Hulle sou hulle hele koringoes in tye van hongersnood aan die stad verkoop, vir ‘n aangename wins natuurlik, en is dan ‘n redder van die stad genoem. Self sou hulle ook die stad met fonteine en tempels en skole en ontspanningsplekke versier met groot eerbetoon wat daarmee hulle toegekom het. Die geskenke wat die weldoeners gegee het was egter net vir burgers van die stad, veral vir die oudste families van die stad. Arme immigrante is uitgesluit. Die arm burgers van die stad het in die opsig net soveel soos die rykes ontvang, soms minder, in die opsig was hulle onsigbaar en nie uitgeken as groep wat spesifieke hulp en bystand nodig gehad het nie. Soos die Romeinse Ryk gegroei het, het die lojaliteit teenoor die stad mettertyd verval. Dit het die situasie van armoede vererger. Waar elke stad net vir sy eie brugers uitgekyk het, was dit nou nie eens meer iets wat as ‘n gegewe geneem kon word nie. Daarbenewens het die Romeinse Ryk in die vierde eeu met arm massas gesukkel wat die stede toegestroom het. Die Galileërs (Christrene) wat nie net die eie, die mense van die stad of eie kring, liefgehad het nie maar almal, selfs hulle vyande, het in die omstandighede gedy. Die Koninkryk het gegroei. So sien ons dat die vroeë Christelike kerk om anders redes gegroei het as net weens die feit dat hulle ‘n lucky break gehad het met Keiser Konstantyn. Dit wat hulle laat groei het was iets wat selfs nie eens Keisers kon verban of aanhelp nie. 

Vandag

Julianus is na slegs drie jaar as Keiser om die lewe gebring in een van sy veldslae teen die Perse, wie weet wat van sy planne sou word as hy langer geleef het? Ek dink nie dit sou werk nie. Die Galileërs was hier om te bly. Buitendien kan mens nie deur die staat iets afdwing of reguleer as dit nie in die harte van die mense self leef nie. Liefde vir die vyand het die ou helleniste nie geken nie. Dit was vir hulle ‘n swakheid.

Vandag is dit steeds so.

Ons help steeds net mense van ons eie kring, ons eie stad, ons eie nasie, ons eie land. Die eerste wêreld lande se mense het dit lekker in die sosialistiese regeringstyle terwyl die res van Afrika, die nabye Ooste en Suid Amerika sterf van die honger. Beste van alles is dat die wêreld die vermoë het om 'n einde aan armoede te maak.  

Die ergste is dat ons hier in Suid Afrika as Christene daarvoor bekend is dat ons net na ons eie uitkyk. Het ons die Koninkryk uit die oog verloor? Is ons nie maar ook vandag wêrelds nie? Geen wonder ons sukkel so om mense van die evangelie te oortuig nie. Hoekom sou ek jou Blye Boodskap aanneem as dit my in ‘n verstikkende sisteem van wette indwing met soveel skynheiligheid? Het jy gedink dat mense van die wêreld nie ‘n wêreldse kerk vinnig gaan herken nie?

Maar hoe doen ek dit? Hoe het ek selfs my vyande lief? Moet ek nou brood op die straathoeke gaan uitdeel en beste vriende word met die persoon wat my broer in ‘n motorkaping geskiet het?

Die eerste is seersekerlik om jou eie koninkryk te vergeet, jou kruis op te neem en Jesus op sy weg in die Koninkryk te volg. Sekerlik die moeilikste van alles. In ons koninkryk is daar net plek vir die wat goed aan ons doen, soos die helleniste in Jesus se dae. Vyande word nie geduld nie. Daarom sê Jesus sy weg is smal en die wat daarop gaan min. Want dit is so moeilik, so kontra-intuïtief. Die tweede is om Jesus se perspektief op sake te omarm. God is lief vir almal, Hy laat die son oor almal skyn! Doen jy dit, sny jy deur die wêreldsheid van vandag. Dan kry jy ‘n groter perspektief. Hoe kan ek dit verduidelik?

Walter, my seuntjie, is soms wispelturig. Hy sal saam met jou speel maar wil jou nie nag soen nie. Vol stories die knaap, erf dit by sy ma. As hy dit met my pa, sy oupa doen, gee my pa hom so vinnige druk en dan ry hy. My pa neem hom nie kwalik omdat Walter hom nie wil groet nie. Hoekom nie? Want Walter is nog klein. Hy moet nog leer. My pa kyk nie neer op sy kleinseun nie. Walter is syne en hy is steeds baie lief vir hom. Dis net... hy is steeds ‘n kind en my pa het ‘n groter perspektief op die lewe.

Dalk die dat die vroeë christene pasbekeerde mense “kinders” genoem het. Hulle moet nog leer want hulle kom uit die wêreld – daar waar jy net goed doen aan die wat goed aan jou doen.

No comments:

Post a Comment