Thursday, February 18, 2010

Februarie Reeks Sondag Een Die Toring van Babel Genesis 11

Agtergrond
Ons het verlede jaar by Genesis 1 begin. Die belangrike wat ons opgemerk het was die volgende: 
  • God is ‘n verhoudingswese, van altyd af staan die Enige God in ‘n liefdevolle verhouding tot Homself – Vader tot Seun tot Gees.
  • Die mens as beeld van God is daarom ook ‘n verhoudingswese. Ons is gemaak om in ‘n noue verhouding tot God ons Skepper, mekaar en die aarde wat ons moet bewerk en bewaak, te staan.
  • Die afwesigheid van ‘n verhouding met God, ander mense en ons omgewing lê ons lam. Dink gerus daaroor.
  • Die mens wat soos God is maar nie God self is nie, was nie tevrede om die verteenwoordiger te wees nie. Hy/sy wou self regeer. Daarom toe die mens die kans gekry het om AL die kennis, kennis van goed tot kwaad, te verkry – kennis wat net God beskore is – het sy(hy) dit aangegryp.
  • Die daad bring ‘n verhoudingsbreuk. Die mens mag nou nie meer in die teenwoordigheid van God leef nie maar moet daarbuite sy/haar eie potjie krap.
  • Die nuwe mens wat nou net op homself, sy welstand, sy eer en sy prestige ingestel is, pleeg gou die eerste moord. Die mens as mededinger vir God, besig om sy eie koninkryk te bou, is hier om te bly.

Nota’s by die Toring van Babel 
Inleiding

Na die gebeure van die Sondvloed lees ons in hoofstuk tien dat Noag se kinders en hulle nageslag oor die hele wêreld versprei het, elk met sy eie taal. Blaai ons om na hoofstuk 11 lees ons skielik dat almal weer een taal praat! Hoe nou? Die beste veklaring is dat Genesis 11 ‘n kort verduideliking gee waarom almal, soos Genesis 10 noem, nou reeds oor die aarde versprei is, elk met sy eie taal. Genesis 11 met die verhaal van Babel dien dus as ‘n soort na-verhaal tot die vorige hoofstuk.

Sinar en Babel
In beide hoofstukke – Genesis 10 en 11, kry ons duidelik die aanduiding dat die geografiese gebied hier ter sprake iewers in Mesopotamië is. Die mense het dus na die sondvloed ooswaarts van Ararat in Turkeye afgetrek tot by die vlakte van Sinar ook bekend as Mesopotamië waar hedendaagse Irak geleë is. Die vlakte van Sinar beteken letterlik die vlakte tussen twee riviere. Die woord Mesopotamië beteken presies dieselfde. Die twee riviere onder bespreking is die Tigris en die Eufraat.

The Fertile Crescent
Die gebied bekend as the Fertile Crescent lê in ‘n halfmaan en strek van Irak tot Israel. Die gebied het die oudste tekens van verstedeliking tot nou toe opgelewer. Griekeland kan miskien die wieg van westerse denke genoem word maar the Fertile Crescent is die wieg van die mensdom. Wetenskaplikes wat die voorvereiste vir menslike verstedeliking nagespoor het, het tot die gevolgtrekking gekom dat groot koninkryke slegs ontwikkel waar die volgende teenwoordig is:

  • Milde klimaat want die mens moet nie teen die elemente hoef te veg net om aan die lewe te bly nie.
  • Gewasse natuurlik tot die gebied wat baie mense op een slag kan voed en op grootskaal verbou kan word bv. graan, mielies, koring.
  • Roumateriale natuurlik tot die gebied om instrumente te maak om boerdery te vergemaklik.
  • Makgemaakte diere natuurlik tot die gebied wat ingespan kan word om boerdery produksie tienmaal op te stoot.

The Fertile Crescent het dit alles gehad. 

Die groot vraag
Het dit al ooit vir jou sin gemaak dat mense terstond ‘n toring in die middel van nêrens wil bou om God uit te daag? Vir wat? Hoe kan ek vandag die verhaal van Babel beter verstaan? ‘n Aanduiding kan wees dat daar miskien aan die verhaal van die toring van Babel bygewerk is om dit verstaanbaar te maak vir die mense van die tyd. Dis nie vreemd vir die Bybel nie – vergelyk Gen 36:31 asook Gen 14:14 en Rigters 18:29. Dit is duidelik dat daar na die tyd aan die tekste bygewerk is om dit vir die lesers van die tyd meer verstaanbaar te maak. Die verhaal van die toring van Babel kan dus heel moontlik ‘n ouer verhaal wees waaraan skrywers van ‘n ander tyd dele bygewerk het.

Waarom sê ek so?

Die verhaal het treffende paralelle met Babilonië en ons almal weet dat die Twee stamme ryk daarheen as ballinge geneem is. Miskien het die skrywers met die kennis wat hulle van Babilonië opgedoen het, die veel ouer verhaal van Babilonië bygewerk om dieselfde waarheid in meer verstaanbare terme oor te dra?

Kom ons kyk na Babilonië
Babilonië is Akkadies vir Poorte van die gode. Die magtige voetspore van Babilonië is reg deur die Bybel te vinde. Dink aan Daniël en die twee stamme ryk wat daarheen weggevoer is. Die Babiloniese Ryk is vergelykbaar met Egipte, Griekeland en Rome. Elkeen wou die wonderlike stad met sy fantastiese tegnologie en vrugbare vloedpleine verower. Vol selfvertroue, nuwe tegnologie, rykdom, mag, groei en sukses. Hangende tuine van Babilon is een van die sewe wonders van die antieke wêreld. Die Persiese Ryk daarna het Babilon as hoofstad gehou, Alexander die Grote wat die Perse verslaan het, was stomgeslaan deur die stad. Dit sou ook in sy planne ‘n belangrike rol speel. Babiloniërs sou soos gode vir die Twee stamme ryk daar van Jerusalem in die berglande van Israel lyk. Babiloniese godsdiens lei tot hedonisme. Vandag is naam Babilon steeds sinoniem met vergrype en oormaat. Hulle heilige plekke was torings genaamd zigguratte wat as die poorte van die gode gefunksioneer het. Stad met ‘n toring.
Nebukadnezer het in die tyd van die Twee stamme ryk se ballingskap daar ‘n nuwe Ziggurat op die fondasie van ‘n antieke een gebou met die naam van Etemenankie – die Platform tussen Hemele en Aarde.

Daar is nog baie te sê rakende die wyse waarop die verhale in die Bybel (veral in die Ou Testament) geskryf is. Sommige sou sê dat dit bloot oorgekopieër is van ouer verhale uit die heidendom. Ander wys weer daarop dat daar regoor die wêreld Babelverhale in verskeie kulture voorkom en dus daarop dui dat dit ‘n werklike gebeurtenis is wat in die verskeie kulture van die mensdom opgeneem is. Die saak is nie eenvoudig nie, wat wel duidelik is, is dat die verhale in die Bybel nie gesteel is nie. Dit kom wel tot ons in ‘n Oosterse baadjie maar dan gevul met sy eie inhoud – God se inhoud.

Wat is die boodskap wat ons uit die teks hoor?
Dit is in die mens om monumente vir homself te bou instede om volgens God se oorspronklike plan in harmonie as God se verteenwoordiger op te tree. Die oorspronklike plan behels dat die mens die skepping bewerk en bewaak terwyl daar in liefde met God en mekaar geleef word. God duld nie koninkryke van mense nie.

Toepassing vir vandag
Die toring van Babel hoef nie eens op ‘n tyd te gebeur het nie… want dit gebeur elke dag steeds. Dis ‘n tydlose boodskap van die mens se strewe om ‘n monument vir homself te bou in plaas van ‘n tempel vir God.

Waar staan ons vandag? Direk na die Middeleeue vind twee gebeurtenisse gelyklopend plaas – die Moderniteit en die Reformasie. Die Reformasie het die Rooms Katolieke Kerk verwerp en wou weer by die grondgebinsels van die Woord uitkom. Die Moderniteit wou op sy beurt ‘n utopia op aarde vestig deur die rede/verstand. Die verstand sou geboorte gee aan ‘n samelewing wat onsmaaklikhede soos armoede, klasseverskille, siekte en ongeregtigheid nie ken nie. Vergelyk die reeks Star Trek van die laat sestigs vir ‘n personifikasie van die ideaal.

Die droom het gefaal. Die Moderniteit was op die ou einde die donkerste en bloedisgte tydperk in die geskiedenis van die mensdom. Die rykdom en welvaart wat dit sou bring was slegs beskore vir die Europese lande. Ander lande en kulture is verslaaf en verarm. Daarby het ‘n geraamde 100 miljoen in die twee wêreldoorloë gesterf met Stalin, Mao en Pol-Pot se Kommunisme wat nog miljoene sterftes bygedra het. Die mensdom wou homself uiteindelik van God en godsdiens met al die bo-natuurlike bog bevry en aanskuif na ‘n tyd van verligting wat net die verstand kon bring. Die uiteinde is ‘n aarde wat kreun onder industrialisasie en die gevolglike uitputting van bronne en besoedeling.

Ons leef vandag in ‘n post-moderne era. Ironies genoeg is die Post-moderne era aangebring deur ‘n verwarring in taal. Post-moderne mense is daarby ontnugter met die droom van die moderne era. Ons hardloop almal nou in verskillende rigtings. Elkeen bou nou weer sy eie koninkryk en is slegs daarop gefokus dat dinge vir hom/haarself die beste moet uitwerk. Solank ek gelukkig is en dit nie ander seermaak nie, kan ek maak wat ek wil. 

In Suid Afrika het ons, christen nasionaliste, kliphard saamgebou aan ons die moderne droom. Dié lê nou ook aan skerwe met ontnugterde en terleurgestelde afrikaners wat ‘n onsekere nuwe era in die gesig moet staar.

Wat het intussen verander?

EEN BAIE BELANGRIKE DING

Christus het gekom en sy Blye Boodskap is – bekeer julle want die Koninkryk van God is binne julle bereik. Dis tasbaar, dis hier, jy kan deel kry daaraan. Maar dan sê Jesus as jy my wil volg moet jy jou jou eie aspirasies tot ‘n koninkryk vergeet, jou kruis opneem en my volg. Moenie jou naam in ligte sien nie, dit help nie jy kry die hele wêreld as wins net om jou siel in die proses te verloor nie. Dis nie die moeite werd nie! Kom word ‘n burger van My koninkryk. Dit is waar die lewe lê.

In ons eie konteks moet ons vra of ons nie dalk ook maar die spoor byster geraak het nie? Het ons aan God se koninkryk gebou of die koninkryk van die Afrikaner? Het ons soos sout en lig opgetree en was ons ‘n seën vir mense terwyl ons selfopofferend ander opgehelp het of het ons ander eenkant gehou sodat hulle nie met ons eie planne van nasiebou, ons eie drome en ideale, inmeng nie? Vandag lê ook die droom aan skerwe en hardloop ons afkop angstig rond, uit om onsself te verryk te midde van die chaos van die Nuwe Suid Afrika.

Ons kla en is onseker oor alles. Ons loop oor van kritiek en is ongelukkig en ongeduldig. ‘n Droom het gesterf. Tog is God se droom in Christus steeds daar vir sy skepping. Die droom van ‘n groep mense wat die slag onder die vaandel van God aan SY Koninkryk bou.

Is jy in? Christus se hand strek ook na ons uit vandag… kom word deel van my Koninkryk, dis hier, dis tasbaar, dis naby…

No comments:

Post a Comment