Tot dusver in die reeks...Moenie jou eie koninkryk bou nie. Oftewel - moenie swoeg en sweet aan die aardse torings van jou tyd nie. Kom bou saam aan die Koninkryk van God. Dis 'n kontra-intuitiewe Koninkryk wat jou vra om jou vyande lief te hê.
Maar wat nou van Jesus? Het Hy sy vyande lief?
Lees die volgende tekste saam met my om te verstaan waarom ek so vra...
Die eerste teks handel oor Jesus se intog in Jerusalem - Matteus 21:15-17. Nadat Jesus Jerusalem triomfantelik binnegery het, het die mense sy Naam uitgeroep. Dan lees ons verder:
15 Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: "Prys die Seun van Dawid!" was hulle verontwaardig. 16 Hulle sê toe vir Hom: "Hoor jy wat sê hulle daar?" "Ja," antwoord Jesus. "Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing 17 Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het.
Nou vra ek myself af... het Jesus nie geweet Hy sou die mense ontstel nie? Hy het tog die simboliek agter sy intog verstaan - op die rug van die stomme dier met die palmtakke voor Hom uit Jerusalem in? Hy moes tog weet waar die Joodse establishment vandaan kom? Na die gloriedae van Salomo het die ouens nog net verdrukking en onreg geken. Altyd in die skadu van die een of ander supermoondheid wat gedreig het om hulle uit te wis. Toe kom die dag met Babilon. Gaan lees maar Klaagliedere vir 'n idee van die hartseer daarvan. Na Babilon is hulle teruggestuur maar steeds onder die duim van die Perse. Toe's dit Aleksander die Grote en met hom kom die Hellenisme - die baddens, die teaters, die gimnasiums, die vreemde heidense filosofieë, die heidense gebruike en praktyke wat die mense van God weggetrek het na al die nuwe attraksies. Toe's dit Aleksander se generaals na sy afsterwe - die Diadochi. Die Judeërs het onder Ptolemeers se bewind geval. Sy grondgebied het van Egipte tot by Palestina gestrek. Naderhand sou die huis van Seleukus, afstammelinge van een van die oorspronklike Diadochi (generaals van Aleksander) beheer oor Palestina neem. Onder die heersers van die huis sou die Judeërs gedwing word om Hellenisme te aanvaar. Varke is in die tempel geoffer, mense is gemartel as hulle nie Zeus wou aanbid nie. Dis totdat die huis van Hasmon 'n rebellie gelei het wat die Jode 'n mate van onafhanklikheid gegee het. Dis in die tyd dat die Sadduseërs en Fariseërs as politieke faksies ontstaan het. Die Sadduseërs het baie van die Hellenisme gehou, die Fariseërs daarenteen wou die volk weer terugbring na die God van Abraham, Isak en Jakob. Hulle wou die volk se identiteit beskerm. Dis omdat ons nie meer God se wet onderthou nie dat ons sit waar ons sit - was hulle leuse... Gehoorsaam die Wet, keer terug na God en dinge sal weer goed gaan, God sal weer help.
Het Jesus nie van die ouens geweet nie? Van hulle struggle? Hulle pyn en verliese toe hulle as Fariseërs self op 'n tyd vervolg is nie? Dis nie al nie, lees saam uit Matteus 23:23-33:
23 "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie. 24 Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in. 25 "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid. 26 Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees. 27 "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. 28 So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet." 29 "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die gedenktekens van die vromes, 30 en julle sê: 'As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie. 31 Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die moordenaars van die profete. 32 Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het! 33 "Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?
Hoe het U, U vyande lief as U hulle hel toe stuur net nadat U hulle slange genoem het Jesus? Weet U nie dit gaan hulle kwaad maak nie Jesus? Hoekom laat U boonop nog U dissipels toe om nie hulle hande te was nie en as die Fariseërs U dan aanspreek dan noem U hulle huigelaars? (Matteus 15). En daar is nog ander plekke Jesus, ander plekke waar U mense op die Sabbat genees het, ander plekke waar koring op die Sabbat ge-oes was... U het saam met die prostitute en tollenaars uitgehang, die Fariseërs se gebruike verontagsaam en hulle in die openbaar beledig!?
U het mos geweet watter gevolge dit sou dra?
Ek sien al 'n hedendaagse kêrel Jesus glimlaggend 'n kloppie op die skouer gee en sê Skuus Jesus, dis nie hoe U dit moet doen nie... 'n mens maak na alles nie kerksale so vol nie! Kom kry eerder my program op DVD...
Nou wonder ek of 'n liefdevolle Jesus noodwendig 'n polities korrekte Jesus is? Is liefde 'n motiveringspreker? 'n Gladde politikus wat almal met 'n glimlag huistoe stuur? Of net iemand wat weet hoe om almal met fyn retoriek tot sy saak oor te haal?
Ek weet nie... maar die ou wat hom êrens in die amazone aan 'n boom vasketting is vir my 'n groter liefhebber as die man met die DVD's. Die een wat opgestaan het teen slawerny toe groot dele van die weste se ekonomie daarop gebou was... hy moes sekerlik 'n paar mense kwaad gemaak het, die vraag is net was dit liefde?
Jesus is nie altyd begaan oor dit waaroor ons begaan is nie. Dit klink nie reg om te sê nie, nie pc korrek nie, maar tog waar. In die bo-staande tekste was Jesus meer daarin geinteresseerd om die bose die kollig in te sleep. Hy sou die suits ontbloot vir wat hulle is. Die ouens met die wette en die pedigree wat vromer as die res is. Op die straathoeke in gebed met die leuse Onderhou die wet en draai so terug na God moes hulle regtig heilig laat lyk het. Nadat Jesus hulle konfronteer, vergader hulle gou om Hom verdag te maak, aan te kla en vas te trek - manne van God wat hulle is - toe word hulle ware kleure duidelik. Op die ou einde het hulle saam met die res geskree: Hy is nie ons koning nie, Caeser is ons koning, kruisig Hom!
Is dit nie ook liefde om dit wat sleg is direk uit te daag en in die kollig in te sleep nie? Was dit nie selfs liefde teenoor die einste Fariseërs nie? Ten minste het Nikodemus die kans gehad om te sien waarmee hy en sy vriende besig was... Jesus het vir hom sy eie kwaad sigbaar gemaak.
En vandag? Het ons 'n profetiese stem? 'n Stem gebasseer op ons roeping om erns te maak met ons verhouding met God, ons naaste en ons omgewing? Of is Jesus eintlik net daar om ons te dra in tye van swaarkry? Is ons net daar om te sorg dat die ABC's (attendance, buildings and cash) positiewe groei vertoon?
Weereens keer ons terug na die kwessie van selfvergeet. Jy moet jouself vergeet as jy aan die Koninkryk van God wil bou. Jy moet jouself vergeet as jy onreg die kollig in wil sleep. Vra maar vir Jesus, hulle het Hom daarvoor gekruisig!
Nou die vraag - hoe weet ek wanneer om die ander wang te draai? Die ekstra myl te loop? My onderkleed ook uit te trek? Of dan... om iemand 'n huigelaar te noem? Want dis alles deel van die sentrale liefde van die Koninkryk van God.
Kom luister volgende sondag saam.

Die geseëndes in die Koninkryk is nie die ouens wat weet wat hulle wil hê en dit vir hulleself kry nie, dis nie die mense wat van vroegdag af hulle eie drome najaag nie, dis nie diegene wat doelgerig hulle eie koninkryk bou nie. Die mense wat deur Koninkryksoë as geseënd geag word is die vredemakers, die mense met die sagte hart, die persone wat treur as onreg geskied, diegene wat vervolg word vir wat reg is, dis die wat nie hulle sekuriteit in aardse dinge het nie maar weet hoe afhanklik hulle van God is.
Ons leer uit die geskiedenis dat Keiser Konstantyn van die Romeinse Ryk in die vierde eeu ‘n soort van redder van die Christendom was. Hy en sy opvolgers het die Christendom tot staatsgeloof verklaar en die vervolging van Christene stop gesit. Vandaar neem almal aan dat die christene van die antieke era dit maklik gehad het. Hulle het die gelukskoot met Konstantyn getref en van toe af hulle geloof op almal afgedwing. Maar die geskiedenis is selde indien ooit so eenvoudig. Die Christendom se sukses het nie van keisers afgehang nie maar van die mate waarin hulle die beginsels van die Koninkryk van God uitgeleef het. Skaars dertigjaar of wat na Konstantyn se dood betree nog ‘n Keiser met die naam Julianus die toneel. Hy het grootgeword as ‘n Arianis – ‘n dwaalspoor wat uit die Christelike geloof gegroei het en wat die Goddelikeheid van Christus betwyfel of ten minste gemarginaliseer het. Julianus het gou genoeg die dwaling afgeskud en homself tot die hellenisme bekeer, die denke van ou Rome met sy griekse filosowe wat ook die onderbou van ons moderne samelewing vandag vorm. Na sy bekering het sy haat vir christene geintensifiseer. Hy wou hulle van die toneel af hê maar het geleer dat jy hulle nie doodmaak nie, dan groei hulle eers. So openlike vervolging was nie ‘n opsie nie. Sy plan was toe om Christene vanuit alle regeringsposte asook uit die weermag te verban. Hulle mag nie in staatskole as onderwysers opgetree het of van die antieke Griekse tekste in hulle klasse gebruik gemaak het nie. Soos die Jode in die dae voor die Tweede Wêreld oorlog in Duitsland tot op die rand van die samelewing deur die Nazi’s uitgeskuif is, so het Julianus ook probeer doen.
Daar was net een probleem… die Christene het bly vashou aan dit wat in vers 43-48 staan. Hulle het selfs die Romeinse helleniste wat gister nog christene in die arena’s vir die leeus gegooi het, liefgehad. Dit het Julianus grys hare gegee want hoe lê jy dit aan bande? Ons het sy frustrasie nog op skrif. Hieroor sê hy:
Vandag
Die ergste is dat ons hier in Suid Afrika as Christene daarvoor bekend is dat ons net na ons eie uitkyk. Het ons die Koninkryk uit die oog verloor? Is ons nie maar ook vandag wêrelds nie? Geen wonder ons sukkel so om mense van die evangelie te oortuig nie. Hoekom sou ek jou Blye Boodskap aanneem as dit my in ‘n verstikkende sisteem van wette indwing met soveel skynheiligheid? Het jy gedink dat mense van die wêreld nie ‘n wêreldse kerk vinnig gaan herken nie?
Walter, my seuntjie, is soms wispelturig. Hy sal saam met jou speel maar wil jou nie nag soen nie. Vol stories die knaap, erf dit by sy ma. As hy dit met my pa, sy oupa doen, gee my pa hom so vinnige druk en dan ry hy. My pa neem hom nie kwalik omdat Walter hom nie wil groet nie. Hoekom nie? Want Walter is nog klein. Hy moet nog leer. My pa kyk nie neer op sy kleinseun nie. Walter is syne en hy is steeds baie lief vir hom. Dis net... hy is steeds ‘n kind en my pa het ‘n groter perspektief op die lewe.
Nota’s by die Toring van Babel
Kom ons kyk na Babilonië
Toepassing vir vandag
Ons leef vandag in ‘n post-moderne era. Ironies genoeg is die Post-moderne era aangebring deur ‘n verwarring in taal. Post-moderne mense is daarby ontnugter met die droom van die moderne era. Ons hardloop almal nou in verskillende rigtings. Elkeen bou nou weer sy eie koninkryk en is slegs daarop gefokus dat dinge vir hom/haarself die beste moet uitwerk. Solank ek gelukkig is en dit nie ander seermaak nie, kan ek maak wat ek wil.
In ons eie konteks moet ons vra of ons nie dalk ook maar die spoor byster geraak het nie? Het ons aan God se koninkryk gebou of die koninkryk van die Afrikaner? Het ons soos sout en lig opgetree en was ons ‘n seën vir mense terwyl ons selfopofferend ander opgehelp het of het ons ander eenkant gehou sodat hulle nie met ons eie planne van nasiebou, ons eie drome en ideale, inmeng nie? Vandag lê ook die droom aan skerwe en hardloop ons afkop angstig rond, uit om onsself te verryk te midde van die chaos van die Nuwe Suid Afrika.