Tuesday, May 25, 2010

By Hemelvaart en Pinkster (5): Heilige Gees se uitstorting


Teks: Gen 11:7 en Hd 2:4

Ons dink vandag terug aan die uitstorting van die Gees. Dit het gebeur soos ons gelees het in Hd 2 op die dag van die Pinksterfees. Dit was 50 dae na die paasfees.
Hierdie fees was een van drie groot feeste in die Joodse kalender. Die pinksterfees was dus ‘n geleentheid waarby Jode vanoor die destyds bekende wêreld na Jerusalem toe gekom het.
Dit was ‘n oesfees waartydens die Jode met groot vreugde die eerste graan van die oes aan die Here kom offer het. Dit was ‘n tyd van blydskap en van nuwe begin.
Die Jode moes ook Dt 26 van v 3 af herhaal op die dag. En in v3 staan daar:
Jy moet na die priester toe gaan wat in daardie tyd daar sal wees, en vir hom sê: ‘Ek verklaar vandag voor die Here u God dat ek gekom het in die land wat die Here met ’n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’ (De 26:3)

Elke Jood het dus verklaar dat hulle reeds in die beloofde land ingegaan het, reeds die beloftes van die Here vir hulle toegeëien het.
Sommige Jode het ook hierdie fees verstaan as ‘n herdenking van die gee van die wet. Hierby sluit Augustinus, 'n baie bekende kerkvader, aan. Augustinus sê dat die Heilige Gees uitgestort is op hierdie dag, omdat die wet 50 dae na die volk Israel uit Egipte is, aan hulle gegee is. Soos Christus dan die vervulling van die Paasfees is, só is die Heilige Gees wat die wet van God op die tafels van ons hart skryf, die vervulling van die wet wat op kliptafels geskryf is. Dis immers die Heilige Gees wat aan jou insig en wysheid gee. Dis Hy wat jou lei van onbegrip na begrip, van verwarring na orde, van onverstaanbaarheid na verstaanbaarheid.
Dit is duidelik uit die twee talewonders. Die een by die toring van Babel en die een toe die Heilige Gees uitgestort is.

DIE TORING VAN BABEL
Julle ken die verhaal van die toring van Babel. Wat is opvallend van die verhaal? Die belangrikste is dat die mense wou wees soos God. Hulle wou 'n stad met 'n toring bou wat tot aan die hemel reik (v4). Die doel daarvan is dat hulle wou naam maak vir hulleself. Om naam te maak beteken om roem te verwerf. Te streef na die onsterflike. Dit wil sê om op hulle eie manier iets te wil bereik wat Goddelik is. Hulle wou vir hulleself naam maak.
Hulle het geleef sonder om met God rekening te hou. Net in die hoofstukke voor hierdie verhaal, word dit duidelik dat God die mense van die wêreld oor die hele aarde wou laat versprei het. Hy het die mense in verskillende nasies laat ontwikkel om te trek na verskillende dele van die wereld. So sou hulle aan sy opdrag gehoorsaam wees om die aarde te vul en te bewoon en te bewerk. Maar hulle het almal een taal gehad en het mekaar verstaan. Dit was wat dit vir hulle maklik gemaak het om in ongehoorsaamheid en in opstand teenoor die Here te leef.
Daarom verwar die Here hulle taal. Dis meer as net woordbetekenisse wat nie verstaan kon word nie. Dis veral 'n innerlike verdeeldheid en verskeurdheid wat ter sprake is.
Sien jy hoekom dit gebeur het? Dis a.g.v. ongehoorsaamheid aan die Here. Wat harmoniese verskille sou gewees het, het nou verskeurdheid geword.

UITSTORTING VAN DIE GEES
Die van julle wat al met lewensprobleme geworstel het, het dit al ervaar. Die mens wikkel homself net al verder in 'n warnet vas as mens in eie krag die oplossing wil genereer. Jy moet verantwoordelikheid aanvaar vir jou dade, dis waar! Maar ek loop my telkens vas as ek soos 'n klein kindjie sélf wil.
Daarom het God die antwoord gegee: Jesus Christus, sy enigste Seun, ons Here en Verlosser. Hy het met sy bloed aan die kruis versoening gebring. Met Sy hemelvaart het Hy 'n ander Trooster belowe: die Heilige Gees.
Met Pinkster is die belofte vervul – die Heilige Gees het gekom op ‘n manier wat ongekend was. Dis nie dat die Heilige Gees nie voorheen daar was nie. Hy is immers God wat van altyd af daar was. Hy het ook in die OT gewerk. Ons lees hoe die Gees profete en konings en ander mense met spesiale gawes en vermoëns vervul het vir die spesifieke take wat die Here hulle opgelê het.
Soos Pinkster dus ‘n fees was van ‘n nuwe begin, die eerstelinge van die nuwe oes, die erkenning dat die beloofde land ingegaan is, so is die uitstroting van die Heilige Gees die begin van ‘n nuwe bedeling, die geboorte van die kerk van die NT. Die ingaan in alles wat die beloofde land ‘n skaduwee van was. Ons is ook nou vry om al die goeie goed te ervaar wat die Here God verkies het dat ons kan geniet.
Maar ek loop dit nou vooruit. Die dag van Pinkster het vir die klein groepie van 120 Jesus-volgelinge aangebreek. Verseker met ‘n gevoel van afwagting! Afwagting gevoed uit die betekenis van die Joodse Pinksterfees, maar ook uit die belofte van die Here Jesus self wat gesê het dat hulle in Jerusalem moet wag op die gawe van die Gees.
Hulle was ook soos die mense by die toring van Babel bymekaar. Maar hierdie keer in gebed. In gehoorsaamheid en nie in opstandigheid nie.
Toe hoor en sien hulle dit!
Die skielike geluid van die wind moes hulle van al hulle selfvertroue ontneem. Dit moes hulle voorberei om in afhanklikheid teenoor die Here te wag op wat kom. Die beeld van die wind dui ook op die werking van die Gees. Die Gees wat soos die wind waai waar Hy wil, jy hoor sy geluid, maar jy kan Hom nie sien nie.
Die tonge soos van vuur dui op die brandende effek van hulle woorde. OP die warmte en lig wat die Heilige Gees gee in sy genade.
Wind en vuur. Dit dui op die effektiewe krag van God waarmee elkeen wat glo van toe af bemagtig is. Die uitstorting van die Gees sê nie dat God die Gees nie voorheen effektief en met krag gewerk het nie, maar dit sê dat elke gelowige bemagtig is en nie net sommiges met tye nie.
Dan gebeur die talewonder. Hulle praat in verskillende tale. Herkenbare tale. Anders as wat later in die Bybel van gepraat word van onverstaanbare tale.
En hierdie keer is daar nie verwarring nie, maar almal verstaan die groot wonderdade van God.
Sien jy, God keer die veroordeling van Babel om.
Die verskeurdheid word heelgemaak! Daar is eenheid ten spyte van die verskeidenheid. Die verwarring word begrip.
Opstandigheid word nederige diensbaarheid. Die Heilige Gees se vrug is juis liefde, liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Om self te wil naam maak, word vervang met die verkondiging van die Naam van Jesus. Met blymoedige vrymoedigheid en met krag word die evangelie verkondig.
Ons is verby die uitstorting van die Gees. Hy het in ons woonplek kom maak. Ons moet gekenmerk word deur harmonieuse eenheid te midde van verskeidenheid; deur nederige diensbaarheid en deur vrymoedige en kragtige verkondiging van die evangelie.
Wat sukkel ons dan nog so by Babel? So asof die uitstorting van die Heilige Gees nie gebeur het nie?
Ek doen ‘n beroep op jou om te stop daarmee om jou optrede te rasionaliseer deur dinge soos: maar ek doen waaraan ek gewoond is. Of: Ons kerk se mense is maar so. Of: ek is gevestig in my weë.
As die 120 daardie dag op Pinkster ook so geredeneer het? Ons maak maar waaraan ons gewoond is – ons maak maar soos goeie Jode maak? Waar sou ons menslikerwys gewees het? Ek sê “menslikerwys”, want ek is seker God sou dan dat die klippe dit uitgeroep het!
Nee! Los vir Babel daar agter. God het in sy oneindige genade al aangegaan, aan beweeg. En as jy nog daar is – by Babel – dan moet jy weer dink, want dan bedroef jy die Heilige Gees. Ons vier tog die uitstorting van die Heilige Gees vandag. Dit beteken tog dat ons Here Jesus Christus hier op aarde was en al weer opgevaar het en vir ons die lewe vol oopgemaak het.
‘n Lewe van harmonieuse eenheid, gehoorsame diensbaarheid en vrymoedigheid by een en almal om met blydskap te loop vertel wat die Here aan my gees gedoen het.

By Hemelvaart en Pinkster (4): Biddende afwagting


Teks: Hd 1:14 en 2Pt 3:14

Dink jou vir ‘n oomblik in in die gedagtewêreld van die apostels na die hemelvaart.
Gedagtes wat wissel tussen, bang, verward, maar tog opwinding – ‘n verwagting!
Want, sien, hulle het twee dinge wat onmiddelik duidelik is: twee beloftes en twee opdragte.
Toe ons Here opgevaar het, is die belofte gegee: Hy sal net so kom soos julle Hom sien wegvaar het. Die belofte is: Hy kom weer! (Hd 1:11)
Saam met die opdrag om in Jerusalem te gaan wag, is die belofte gegee dat die Here sy Gawe, die Heilige Gees, aan hulle sou gee. (Hd 1:4, 5) En hiermee saam die opdrag om sy getuies te wees tot aan die uithoeke van die aarde. (Hd 1:8)
Hulle gaan toe na Jerusalem na die bovertrek waar hulle gewoonlik byeengekom het.
Almal was daar: die 11 saam met ‘n aantal vroue onder wie Maria, Jesus se ma. Dis die laaste keer wat haar naam genoem word. En saam met Jesus se broers: dis die eerste keer wat hulle genoem word dat hulle saam met die dissipels was. Hulle het nou waarskynlik geglo. Een van hulle, Jakobus, het die opgestane Here self gesien.
En wat gaan doen hulle?
Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed … (Han 1:14)

Hulle het gaan bid. ‘n Kenmerk van die kerk. OM te bid.

Drie dinge staan vir my duidelik uit hier:

1. Hulle was eensgesind
Daar is baie dinge wat hulle eenhheid kon versteur het. Die lede van Jesus se gesin kon spesiale erkenning opgeeis het. Petrus kon gekritiseer geword het dat hy die Here verloën het. Hulle kon kwaad gewees het vir Johannes dat hy die een was wat Jesus na die hoëpriester se huis geneem het. Johannes kon op sy beurt almal herinner het dat hy by die kruis bly staan het terwyl almal weggehardloop het en dat hy die een was wat deur Jesus uitgekies was om te sorg vir die gesin. Hulle kon die argument oor wie die belangrikste was voortgesit het. Vrees kon hulle in aggressie teenoor mekaar en sommer die hele wêreld laat uitbreek het.
Maar daar was niks hiervan nie. Hulle was eensgesind – een van gedagte en daad. Hierdie eensgesindheid is nie ‘n natuurlike godsdienstige eienskap van mense nie. Dis ‘n gawe van God wat Hy gee tot sy eer. Dis juis in aanbidding aan God wat die eensgesindheid na vore kom hier en in die res van die plekke waar die woord in die Bybel voorkom.
Wanneer ons saamkom om God te aanbid soos ons juis nou hier is: met watter gesindheid kom jy hierheen? Ook wanneer mens saamkom om voorbidding te doen. Of Bybelstudie. Of in ‘n kleingroep. Of in enige groep van watter aard ookal as geloiges. Kom jy om in eensgesindheid God te verheerlik?
Ons is lewende bewyse daarvan dat dit so maklik anders kan wees. Dat ons kom met die gedagte van hier te kort en daar te lank. Hierdie een is weer so. Daardie een is weer sus.

2. Hulle het volhard
Die 2de saak wat opvallend is, hier waar almal saambid, is dat hulle volhard het. Dit blyk ook volgens Hd 2:42 dat hulle volhardend gebid het.
Ek wil vra dat julle saans wanneer julle stiltetyd het, saam met my sal bid vir eensgesindheid en groei in ons gemeente. En spesifiek ook vir die kermis aan die einde van die maand.

3. Daar was ‘n honger en dors na God
Die dissipels was deur emosionele vaarwaters. Jesus is gekruisig, Hy het opgestaan, Hy het aan hullle verskyn en hulle alles geleer wat op Hom van toepassing was uit die Skrifte en Hy het van hulle af weggegaan, opgevaar hemel toe.
‘n Ongelowige reaksie van die dissipels hierop sou wees om nou maar in ontnugtering aan te gaan en weg te gaan en hulle eie ding te doen.
Maar die gelowige reaksie is om saam te kom en sonder ophou te soek na God se leiding en rigting.
Saamgebind deur hulle verhouding met die opgestane Here en gedring deur die opdragte en beloftes, soek hulle, dors hulle na God. ‘n Woord van Hom af wat leiding en rigting en helderheid sal gee.
Ons staan ook in so tyd in ons gemeente. In meer as een opsig staan ons op kruispunte wat ons noop om te herbesin.
Ons staan wat ons landsomstandighede betref in dieselfde bootjie wat ons noop om opnuut te soek na die aangesig van God.
Die opdrag om in Jerusalem te bly wag was vir die dissipels self bedoel. Hulle het dit gedoen totdat die Heilige Gees, die gawe wat van die Here af gekom het, uitgestrort is. Dis een belofte wat vervul is.
Die ander opdrag, om getuies te wees tot aan die einde van die wêreld, het ons verlede Sondag gehoor, is nog ons opdrag ook. Dit sal eers eindig wanneer die ander belofte vervul is – die belofte van die wederkoms van ons Here.
Dis ‘n belofte wat vir ons wink.
In afwagting op die belofte van die gawe van die Heilige Gees het die dissipels eendragtig saamgekom in gebed. En ons het daaruit geleer wat ons ook te doen staan.
Wat staan ons te doen op grond van hierdie belofte waarvan die vervulling nog voorlê?
Die Here gee in sy Woord ‘n duidelike antwoord. Een plek waar dit duidelik staan is 2 Pt 3:14
Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe. (2 Pet 3:14)

Hierdie dinge waarna verwys word is die wederkoms van die Here wanneer die ou aarde en hemel sal vergaan en die nuwe aarde en hemel sal kom.
Wat moet ons doen tot dan toe?
Beywer, lê jou toe daarop dat Hy jou sal vind dat jy vlekkeloos en onberispelik sal wees. Leef só dat jy jouself rein hou van alles wat jou sal vuil maak voor God. Leef só dat mense nie gegronde redes het om aantygings teen jou te maak oor jou lewe voor God nie.
Dis wat ons moet doen in afwagting vir die koms van die Here. En ons kan dit alleen doen wanneer ons volhardend, eensgesind in nederige en dankbare afhanklikheid biddend voor God bly staan

By Hemelvaart en Pinkster 3: Die magsdaad - getuig!


Teks: Hd 1:8 (By hemelvaart)

In die fiering van die nagmaal so pas, het ons die dood van ons Here herdenk. Ons het ook op Paassondag die opstanding van ons Here gevier. Ons vier dit eintlik elke Sondag as die 1ste dag van die week. Ons herdenk vandag, 40 dae na die paastyd, die hemelvaart van ons Here.
Net voordat Hy daardie dag opgevaar het hemel toe, het Jesus se dissipels Hom gevra: Here, is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk vir Israel gaan oprig?
Kan jy hierdie 11 manne sien?! Hulle verwag dat iets gaan gebeur! Jesus is gekruisig en het opgestaan! Hulle sien Hom hier waar Hy voor hulle staan en hulle wonderlike dinge leer. Alles aangaande Hom wat in die Skrifte staan. En daar staan ook dat die koninkryk van God gaan kom!
En daarom die vraag: Wanneer Here?
Jesus antwoord:
Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. (Han 1:7)

Dis God se saak. Dis Sy koninkryk, Hy regeer, Hy bepaal die tye en geleenthede. Hy het die mag daaroor.
Dis alles waar. Dit is Sy koninkryk. Hy regeer absoluut.
Maar weet jy wat het ons hiervan gemaak? Dis God se saak; dis nie my saak nie! Ons vergeet die tweede deel van Jesus se antwoord:
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees (Han 1:8)

Hierdie oprigting van die Koninkryk van God gaan nie deur 'n skielike magsdaad van die Here plaasvind nie. Deur 'n magsdaad wel, ja! Deur die getuies van mense!
Wanneer jy bid: laat U koninkryk kom, dan bid jy dat die Here Sy kerk op aarde sal bewaar en sal laat groei.
Hoekom steek ons vas by die bewaar en kom ons nie met ons lewenswyse nie ook by die: groei uit nie? Is dit dalk omdat jy bang is? Bang vir jou verantwoordelikheid? Bang omdat dit dalk harde werk beteken? Bang omdat jy dalk antwoorde sal moet verskaf aan vreemde mense en jy voel jy kan nie?
Jy vergeet dat ons Here by Sy opdrag: julle sal My getuies wees, ook 'n belofte gevoeg het: julle sal krag ontvang wanneer die HG oor julle kom.
Julle sal krag ontvang. God se krag waarvan hier sprake is, het die wêreld verander. Dis nie 'n onpersoonlike krag nie. Nie 'n neutrale natuurkrag nie. Dis nie die krag waarop towenaars en toordokters staat maak nie.
Nee, dis die krag waarmee Hy sy volk uit die slawehuis van Egipte bevry het en wonders gedoen het, waarmee Jesus gebore is, opgetree het, wonders gedoen het, die kruis verdra het, opgestaan het, die dood oorwin het en – ja! – opgevaar het. Al hierdie gebeure vra van jou geloof en staan in verband met geloof. Vra van jou 'n persoonlike verhouding met God. Die enigste en lewende God. Jesus sê self nadat Hy 'n seuntjie gesond gemaak het, op 'n vraag van Sy dissippels dat deur geloof in Hom, niks onmoontlik is nie (Mt 17:14-20).
Hierdie krag, sê Jesus hier, sal sy dissippels ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle sal kom. Die belofte van die Heilige Gees is vervul toe die Heilige Gees uitgestort is met pinkster. Dis die vervulling van die profesie van Joël wat ons in Hd 2 van gelees het: So sal dit in die laaste dae wees sê God: Ek sal My Gees uitstort op álle mense. Sien jy: waar God se Gees werksaam is, is daar krag!
Die werk van die Heilige Gees is vernuwing en bekragtiging. Miskien lê ons dalk te veel klem op die vernuwende werking van die Gees en te min op die bekragtiging deur die Gees. Albei is belangrik. Sy Gees is uitgestort op alle mense. God vernuwe jou wat sy kind is deur sy Gees en Hy gee aan jou die krag wat jy nodig het. Deur Sy krag is niks onmoontlik nie!
Dis die belofte. Nou wat maak jy met hierdie belofte?
Soos met enige belofte omhels jy dit deur die geloof. Maak jy dit jou eie, vertroetel jy dit, bewaar jy dit. Dit moet deel word van jou mondering as gelowige. Dis deel van jou wapenrusting in hierdie wêreld.
Nou is die vraag: hoe maak jy hierdie belofte van die krag van God deur die Gees jou eie? Hoe vertroetel jy dit? Hoe moet jy maak om dit deel van jou mondering te maak?
Kyk, dit staan hier: en julle sal my getuies wees. Jy druk hierdie belofte aan jou hart wanneer jy getuie is vir Jesus Christus! Wanneer jy aan ander vertel dat Hy jou Verlosser en Here is. Hoe meer jy dit doen, hoe meer gaan jy die krag van God in jou en in ander mense se lewens sien werk! Wanneer jy in die krag van God die Woord aan ander verkondig deel jy so daarin, gryp dit jou so, dat jy nie kan onttrek nie, brand die evangelie soos 'n vuur in jou sodat jy dit moet vertel!
Dis nie dat jy die krag van God afhanklik maak van jou getuie wees nie. Maar jou belewenis van die krag van God gaan ingrypend verander wanneer jy gehoorsaam God se wil uitvoer.
Die woord wat met krag vertaal is, hou verband met die woord vir dinamiet. Wanneer jy getuig, plaas jy die dinamiet van God in die ore en harte van mense. Hy breek die ore en harte oop om gelowig sy Woord te ontvang en daarvolgens te lewe.
Die Here Jesus gee in hierdie vers die plan waardeur Hy sy kerk op aarde wil bewaar en laat groei. Hy gee sy plan vir die koms van die koninkryk aan jou deur. Dit behels dat Hy jou wil gebruik. Hy sê dat julle getuies moet wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea, Samaria en tot in die uithoeke van die aarde. Handelinge is die beskrywing van die uitvoering van hierdie plan tot by Rome.
Jy is deel van die resultaat van die getuies wat tot by die eindes van die aarde gegaan het. Kan jy dit bekostig dat jou stem as getuie nou stil word?
Is jy deel van die getuiespan van ons Here?

Wednesday, May 19, 2010

By Hemelvaart en Pinkster (2): Ongelowige Thomas?

Teks: Jh 20:28

Johannes begin sy evangelie met die bekende vers:
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. (Joh 1:1-2)

Hiermee gee hy die toon aan wat in sy evangelie, die goeie boodskap wat hy moet bring, staan.
Hy verkondig dat Jesus Christus die Woord is. Dat al die woorde waarmee God Homself openbaar het saamtrek in hierdie één daad dat Hy sy Seun gegee het om in ons plek vir ons sonde te sterf en so ons skuld ten volle te betaal.
God se openbaring is te sien in die OT in dade. Mense het toe geglo omdat hulle iets gesien het van God se almag. Hulle het dit beleef dat God hulle uitgelei het, versorg het, die beloofde land ingelei het en met wonderdadige oorwinnings die land aan hulle gegee het en hulle hul land kon behou het.
So het sy kinders Hom leer vertrou. So het hulle al hoe meer en meer begryp dat Hy waarlik God is. So het hulle besef dat Hy en die lewe saam met Hom die werklikheid is. Dis betroubaar en waar. Hulle hele lewe was ‘n bestaan in verhouding met die lewende God. En dis wat geloof is. In die OT was dit reaksie op God se aksie. Reaksie op die getroue God wat met sy volk ‘n verbond gesluit het.
Ons sien dit duidelik in Eks 14:31
Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar. (Ek 14:31)

Die woord vir “geglo” hierbo is begrip in die OT wat geloof inhoudelik die meeste en volste betekenis gee is die woord wat ons kan weergee met: “Amen”. Hulle het op die Here se dade gesê: “Amen”. Nie net met die mond nie, maar met hulle hele lewe. Geloof beteken in die sin om die Here absoluut ernstig op te neem. Om met jou hele lewe op God “Amen” te sê is om te sê: God is werklik, Hy is daar, Hy is ‘n werklikheid in my lewe, ek vertrou Hom alleen, wat Hy vra is reg en ek wy my toe om dit uit te voer.
Geloof is om te sê: Amen, Here! Hier is ek!
In die teks word vertel van die dissipels wat die Sondagoggend na die 1ste berigte oor die opstanding in ‘n vertrek weggekruip het omdat hulle bang was vir die Jode. En toe verskyn Jesus aan hulle! Maar Thomas was nie daar nie.
Was hy dalk so teleurgesteld dat hy nie daar wou wees nie? Ons weet dit nie. Ons ken hom as ‘n mens wat nie bang is nie (Jh 11:16) en ook nie bang is om vrae te vra nie (Jh 14:5). Waarskynlik was hy ‘n pessimistiese mens. Altyd die donker kant gesien van ‘n saak. Hy wou verseker weet!
En dis hier baie duidelik. Alhoewel die dissipels hom herhaaldelik gesê het dat hulle Jesus gesien het, dat Hy aan hulle verskyn het, het hy nie geglo nie.
Dis nie dat ons Here hom vir sy twyfel tereg gewys het nie. Dit was omdat hy nie geglo het nie.
Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” (Joh 20:27)

Wat het hy nie geglo nie?
Die herhaalde getuies van die ander dissipels dat hulle Jesus gesien het na sy opstanding. Waarskynlik sou die Emmausgangers en die vroue wat die Here gesien het, ook getuig het dat Hy wel opgestaan het.
Maar hy het nie geglo nie. Hy wou self sien. Dis noemenswaardig dat Thomas ‘n persoonlike ontmoeting met die opgestane Here wou hê. Maar ons kan sê dis verkeerd van hom dat hy voorwaardes aan die Here gestel het.
Die naam Thomas en ook sy ander naam: Didimus, beteken tweeling. Ons weet nie wie die ander een van die tweeling was nie en of daar werklik ‘n tweeling was nie. Maar as ons o na Thomas kyk, kan ons dalk so met sy houding assosieer dat ons maar net sowel sy tweeling kon wees, nie waar nie? Ons wil ook graag die Here Jesus persoonlik ontmoet, maar op ons voorwaardes.
Jesus wys Thomas tereg. En ons moet ook op hierdie teregwysing ag slaan: moenie voorwaardes stel vir die Here voordat jy Amen kan sê op die Here nie.
Maar is dit nie ongelooflik nie dat ons Here neerbuig, moeite doen, om Thomas, en al sy tweelinge vandag, tegemoet te kom! Kom kyk! Bring jou vinger en jou hand en kom maak seker. Moenie langer ongelowig wees nie.
En sonder dat hy werklik aan die Here gevoel het, toe hy sien, tóé kon Thomas Amen sê!
Hy sê: My Here en my God! Hier na aan die einde van die Joh evangelie kom die klimaks van hierdie evangelie: die belydenis dat die Here Jesus Christus werklik God is en dat dit Hy is wat die Messias is. Daar is nie nog een nie.
Hoe gelukkig is die wat nie gesien het nie en tog glo!
Hoe gelukkig ....

Jy is gelukkig, want jy sê: Amen!

By Hemelvaart en Pinkster (1): Op pad na Emmaus

Teks: Lk 24:25, 26


Ons begin die reeks By Hemelvaart en Pinkster met 2 gedeeltes in oploop tot die hemelvaart van ons Here Jesus Christus. Vandag loop ons saam met die Emmausgangers en volgende Sondag DV ondersoek ons saam met Thomas.
Wat het gebeur nadat ons Here opgestaan het uit die dood?
Iets daarvan kan julle in die volgstuk nagaan en bestudeer.
Maar kom ons kyk vir ‘n oomblik wat in die harte en gedagtes van die dissipels, die volgelinge van ons Here, geleef het.
Hulle loop met “somber gesigte” (v17) oor al hierdie dinge wat gebeur het. Dit wil sê oor Jesus se kruisiging, sterwe en nou die ontstellende berigte oor sy opstanding.
Die feitlik humoristiese vraag van ons Here in v19 lê die duidelike verwarde en onstellende gedagtes van die gelowiges in daardie tyd bloot:
Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, ’n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; (Lu 24:19)

Hulle kon nie verder kom as dat hierdie Jesus ‘n profeet was nie. Hulle het so gehoop dat Hy die Messias sou wees wat sou kom om hulle van die onderdrukkende vyand te red. Maar nou was Hy klarblyklik maar net nog een van die ry van vals Messiasse wat gekom en gegaan het en daar het dadels van gekom. Niks het verander nie. Alles is maar net dieselfde.
O, die teleurstelling! Die verwagting wat vir die soveelste keer in die grond in vertrap is!
Hierdie vraag van Jesus aan Kleopas en sy reisgenoot op pad na Emmaus toe, laat mens onwillekeurig dink aan die vraag vroeër aan sy dissipels: “Wie, sê julle, is Ek?” (Mt 16:15).
Daar antwoord Petrus so mooi:
Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Mat 16:16)

Maar hier is die verwagting verskerf soos ‘n glas wat op die vloer geval het.
Juis daarom is hierdie verhaal opgeteken. Om aan jou te wys hoe Jesus dié wat aan Hom behoort in hul diepste nood weer kom optel, kom terugbring na Hom toe!
Kleopas en sy reisgenoot is op pad weg van Jerusalem af na hulle huis toe. Was dit dalk deel van ‘n algemene uitmekaarspat van al Jesus se dissipels? Ons kry ook van die ander dissipels by die see van Tiberias (vlg. Jh 21) besig om weer vis te vang soos toe Jesus hulle gekry het toe Hy hulle daar in die begin geroep het.
Daarom verskyn ons Here hier aan die twee daar op pad.
Hy moet hulle gedagtes her-fokus.
Hulle was so gefikseerd op die verlede, dit wat gebeur het, dat hulle hoop verflou het, hulle geloof het gevries. Hulle loop in ‘n miswolk en kan nie sien nie.
Dis nogal wat met ons gebeur wanneer iets onverwags gebeur, nie waar nie? Skielike siekte, dood, werkloosheid, probleme met die kinders, wendinge in die landsomstandighede maak dat ook ons loop in gevriesde geloof. Die Here het gister en eergister uitgehelp, maar nou? En daarvoor was die Here Jesus Christus daar, dáár by hulle! O, hulle het Hom nog nie herken nie, dis waar. Maar Hy was daar! Besig om hule te her-orienteer om in die hede by Hom te wees, saam met Hom die pad te loop.
Die begin van die oplossing is om te weet dat Hy saam met jou op die pad is. Dit maak die pad oop dat jy met Hom besig kan raak. Dat jy minder met die beheer van jou lewe self sal besig wees en dat Hy meer die sentrale plek sal beklee. Dit laat nie al die probleme soos mis voor die son verdwyn nie en gee nie onmiddelik al die antwoorde op al die vrae wat ons het nie, maar dit gee jou die versekering dat Jesus saam met jou op die pad is en dat Hy saam met jou daardeur sal gaan om jou te troos en te versterk in jou geloof.
Wanneer die onvoorsiene gebeur en jy gefokus is op die verlede, herfokus op ons Here en ontvries jou geloof en wees tevrede en gemaklik om met Hom die pad te loop.
Ons Here moes ook die Emmausgangers se houdings hervorm.
Dis tog so ironies! Hulle vertel Jesus dat hulle Jesus nie verstaan nie! Hoe werk dit dat Hy sommer so uitgelewer kon word aan die owerhede om gekruisug te raak? Hy was dan die Een wat hulle moes kom verlos het? Het Hy dan nie self so gesê nie? En nou? Ons kan net nie verstaan hoe Jesus dit kon toelaat nie..?
Hulle het Jesus kom bevraagteken in plaas daarvan dat hulle hulle veronderstellings of afleidings bevraagteken het.
Hoe dikwels gebeur dit nie met ons nie? Dat ons al die vrae het op grond van ons afleidings oor geloofskwessies en oor die opstanding van ons Here, oor sy maagdelike geboorte, oor die skepping van die aarde en al die nuwe ontdekkings hier naby ons.
Jesus het aan die Emmausgangers alles wat op Hom betrekking het (v27) begin verduidelik. Daarmee rig Hy ons gedagtes op Hom. Gee Hy eintlik ‘n wenk dat die Skrifte, en ook ons Bybel soos ons dit vandag ken, nie ‘n geskiedenis- of wetenskap- of enige ánder handboek is nie, maar dat dit ons eintlik op Hom, op Jesus, alleen wil fokus. Dat ons met Hom in verhouding sal staan en ons voorveronderstellings, ons mensgemaakte lewens- en wêreldbeskouings sal los, en saam met Hom die pad sal loop. Hy regeer. Hy is soewerein, Hy het die vrymag dat niks, geen dood of lewe, of engele of magte of hoogte of diepte of enigiets ander wat daar in die skepping is, ons sal kan skei van God se liefde nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Ons Here moes ook die Emmausgangers se harte vernuwe.
Toe Hy daar saam met hulle aan tafel sit, dank en die brood breek, toe gaan hulle oë oop en herken hulle Hom. Hy verdwyn toe voor hul oë en hulle sê toe:
“Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Lu 24:32)

Tóé besef hulle hulle het die opgestane Here gesien. Toe besef hule alles is nie verby nie. Toe begryp hulle dat Hy meer is as net ‘n profeet wat kragtige dinge gedoen het in die Naam van God – Hy is self God! Toe begryp hulle dat Hy kom doen het wat Hy gesê het; dis net anders as wat hulle hul dit voorgestel het. Soveel anders! Nie tydelike heerskappy en lewe nie, maar soveel heerliker en soveel voller en soveel méér as wat hulle dit ooit kon voorstel.
Jesus is nie die man van smarte wat hulle gedink het nie, maar die triomferende Jesus, die Seun van God.
Onthou dit wanneer jy gebrek aan begrip en traagheid van gees ervaar. Laat Hy jou hart vernuwe. Laat Hy nou jou geloof versterk. Geloof wat die Heilige Gees in jou wakker maak wanneer die evangelie verkondig word.
Voel jy nie ook by die hoor van die Woord hoe jou hart warm word nie? Toe Hy saam met jou geloop het nie?

Werk van die Heilige Gees (04): Skeidsregter

Teks: Kol 3:15

Wie of wat bepaal jou lewensreëls?
Vandag is die begrip: spiritualiteit nogal ‘n gonswoord, die in-ding, wanneer oor geloof en kerkwees en Christen-wees gepraat word.
Met spiritualiteit, wat nie ‘n woord is wat in die Bybel gevind word nie, word dan verskillende dinge bedoel. Maar ek meen dat dit saamgevat kan word dáárin dat dit dui op die manier hoe jy God beleef – hoe jy oor God dink en wat jy van Hom dink. Natuurlik is die manier hoe jy oor God dink nogal bepalend oor hoe jy gaan leef. Daarom dink ek dat spiritualiteit neerkom op die manier hoe jy jou lewe in afhanklikheid van God inklee. Dit gaan oor die besef dat jy jou hele lewe oop en bloot voor God leef.
Dit gaan oor die vraag van baie gelowiges: hoe vind ek ‘n vol en Geesvervulde lewe?
Soos in die tyd toe Paulus hierdie brief aan die gelowiges daar in Kolosse geskryf het, is daar vandag nog verskillende voorskrifte wat gegee word. Dikwels beloof hierdie voorskrifte ‘n kortpad, ‘n onmiddelike verkryging van ‘n hoër tipe van lewe.
Van hierdie voorskrifte is:
1. Die spesiale ervaring. Dis wanneer die Heilige Gees se krag ongehinderd vir die res van jou lewe sal vloei om jou tot volheid te lig en al jou sondes net weg sal wees in een dramatiese oomblik.
Dis nogal aantreklik: dis oombliklik, duidelik bo-menslik, God se werk en dit beloof vryheid van al jou innerlike stryde. Gee net oor en jy word opgelig tot ‘n hoër vlak.
Verstaan mooi: ons mag nooit die kragtige werk van die Heilige Gees onderskat of afmaak nie. Hy werk dikwels met ons as mense so dat ons in krisistye ‘n dramatiese geestelike deurbraak maak. En dis wonderlik. Ek kan getuig daarvan dat God deur sy Gees so werk. Maar ons bedrieg onsself as ons reken dat so ervaring ons verander tot kits heiliges.
2. Nog ‘n voorskrif tot spiritualiteit is Spesiale kennis. Die gedagte dat daar tog iets meer moet wees as die eenvoudige boodskap van Christus. Daar moet iets daaragter wees! Ek moet die Grieks en die Hebreeus ken waarin die Bybel geskryf is. Of ek moet die geheime kodes wat ander mense uit ander geskrifte ontrafel, ken.
En dis so aanloklik: die oomblik as ek hierdie bykomende goed ken, is ek bo ander en is ek nader aan God
3. Nog ‘n voorskrif is die Nakom van rituele. ‘n Ryk en vol lewe, word gereken, word verkry deur sekere voorskrifte te handhaaf. Dit wat ek eet of drink, jaarlikse feeste, Sabbatsviering en sulke goed. En kyk maar hier na Kol 2:16 en 18.
En dis miskien die onbevredigendste manier of voorskrif om ‘n vol lewe te ervaar. Die gevoel dat die lewe leeg is sal altyd daar wees.
4. Nog so voorskrif is selfonthouding. Om allerlei begeertes en gevoelens so half asketies te beheer en te onderdruk. Dikwels is rigiede vas-gebruike en ander selfstraf hier ter sprake. Die ontkenning van die materiele wêreld. Dit klink en lyk so spiritueel! Dis tipies Gnosties. Die liggaam en liggaamlike behoeftes moet ontken word word.
Natuurlik is dit waar dat ons as Christene onsself dikwels goed moet ontsê in gehoorsaamheid aan Christus (Kol 3:5). Ons leef ‘n lewe van dissipline. Maar nie dissipline ter wille van dissipline nie. Ons ontsê ons sekere dinge, omdat Christus ons geroep het na iets soveel heerliker.
5. Nog ‘n voorskrif is totale vryheid. Sommige mense geredeneer dat ons liggame deel is van alles wat sleg is en dit maak nie saak wat mens liggaamlik doen nie. Mens mag volgenss hulle maar toegee aan elke begeerte. Die liggaam het nie houvas op die geestelike faset binne my nie.
Daar is iets van waar vandag hiervan ook in die ding dat mense ‘n tipe Sondag-geloof bedryf en die res van die week het niks met geloof te doen nie. Spriritualiteit word in ‘n hokkie geplaas en nie geïntegreer met die res van my lewenservaring nie.
Dis duidelik dat dit nie gaan werk nie. Kyk maar net na Paulus se gebed vir gelowiges:
Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. (Kol 1:9-11)

En dit is waaroor dit pertinent gaan. Wanneer ek in Christus gegrondves en geanker is, dan kom sy liefde deur die werking van die Heilige Gees so duidelik in my lewe, in my ervaring en wedervarings na vore, dat dit vir almal duidelik is dat Hy my lewe beheers. Dat dit vir my gaan oor Hom en Hom alleen.
Die werk van die Heilige Gees is mos juis dit:
en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. (Joh 14:26)

Daarom staan dit so duidelik:
Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? (Kol 2:20)

En ook:
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. (Kol 3:1)

Duidelik, nie waar nie? Saam met Christus gesterf en saam met Christus opgewek.
Dis wat die Heilige Gees kom doen het. Ons gebind aan ons Here en Verlosser Jesus Christus.
Daarom moet ons ons nie laat bind deur iets of iemand anders nie.
In ons lewenswandel, ons ervaring, in ons spiritualiteit, mag ons ons nie laat regeer deur enigiets anders nie.
Kyk hier staan dit:
En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. (Kol 3:15)

Letterlik staan hier: Die vrede van Christus moet die skeidsregter van jou hart wees. Die vrede van Christus moet jou lewensreëls bepaal. Op ‘n ander plek staan daar: Christus is ons vrede. So ons kan nie sy vrede van Hom af losmaak nie.
In die spele van daardie tyd was die beeld van ‘n skeidsregter – soos vandag – nie onbekend nie. Dis hulle wat deelnemers gedikwalifiseer het. Dis hulle wat dus bepaal het wie wen ‘n prys.
In Kol 2:18 word dieselfde woord gebruik:
Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, (Kol 2:18)

Hierdie mense mag ons nie mislei nie, staan hier. Letterlik staan hier: oor nie oor ons skeidsregter wees nie. En sodoende ons weerhou van ‘n prys nie.
Geen mens, met mensgemaakte reëls mag oor ons skeidsregter wees nie.
Christus wat vrede gee en ons dit laat beleef deur die Heilige Gees. Dis deel van die vrug van die Gees. Hy werk dit in ons, verbind ons aan ons Hoof, aan Christus.
Hierdie vrede hou iets anders ook in.
En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. (Kol 3:15)

Dit bring vrede met ander in die liggaam van Christus. Dit roep ons op om ook in die vrede van Christus met ons broers en susters te leef.
As ek as gelowige die vrede van Christus verloor, dan loop ek op allerlei ander paaie, ervaar ek nie die egte spiritualiteit, die oop leef voor God, nie. Die pad terug is deur belydenis en vergifnis van sonde.
Die vrede van God bring lof en dankbaarheid.
Kom ons laat dit, of liewer: Hy – Jesus Christus, die skeidsregter van ons lewe wees. Laat Hy en die vrede wat Hy bring en kragtig deur die Heilige Gees gewerk word, ons spiritualiteit bepaal.